Jesus was die voete van Sy dissipels
- 2 minutes read - 340 wordsJohannes 13
Jesus het die aand voor die Pasga Sy dissipels bymekaar gekry. Jesus het geweet dit is die laaste aand voor Sy kruisiging. Terwyl hulle om die tafel sit het Jesus opgestaan. Hy het Sy bokleed uitgetrek en ‘n doek om Hom gesit en die voete van die 12 dissipels gewas. Petrus het gedink dit is onvanpas vir die Meester om Sy volgelinge se voete te was.
“Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was? Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan. Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof. Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.”
JOHANNES 13:6-10 AFR53
Jesus het gesê dit was nodig dat Hy hulle voete was sodat hulle deel van Hom kon wees. Die verklaring wat die Bybel gee is dat die dissipels ‘n dienskneg hart moet hê, soos Jesus. Ek glo dit sê baie meer. Die priesters moes hulle hande en voete was voordat hulle die tabernakel kon binnegaan - Exodus 30:17-21. Die oomblik toe Jesus sterf het die voorhangsel van die Allerheiligste geskeur - Matthéüs 27:51. Dit was ‘n simbool dat almal nou toegang tot die Vader het. Deur die voete van die dissipels te was, het Jesus hulle voorberei om ‘n intieme verhouding met die Vader te hê. Hulle het vrye toegang tot die Vader verkry. Dit is nie meer nodig dat ander mense of priesters as tussenganger optree nie. Jy het vrye toegang tot die Vader en kan ‘n intieme verhouding met Hom hê deur Jesus. Die Heilige Gees is daar om jou te help.