JOHANNES MARKUS
- 3 minutes read - 458 wordsJohannes was sy Hebreeuse naam en Markus was die Griekse vorm van sy Romeinse naam.
Nadat Petrus uit die gevangenis ontsnap het, het hy na die huis van Maria - Johannes Markus se ma - in Jerusalem gegaan. Dit is hier waar hulle gedink het dat dit Petrus se engel is wat verskyn het omdat hy in die tronk was.
“En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.”
HANDELINGE 12:12 AFR53
Johannes Markus was ‘n volgeling van Jesus en het saam met Paulus en Bárnabas gereis. Hy het hulle verlaat en teruggegaan na Jerusalem. Op ‘n latere stadium wou hy weer saam met hulle reis. Paulus en Bárnabas het hieroor gestry. Paulus het toe verder met Silas op reis gegaan.
“EN Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.”
HANDELINGE 13:13 AFR53
“En 'n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan. En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. Daar het toe 'n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil.”
HANDELINGE 15:36-39 AFR53
Bárnabas en Johannes Markus was neefs. Bárnabas was ‘n Leviet (Joods) en is in Ciprus gebore.
“Aristárchus, my medegevangene, groet julle; en Markus, die neef van Bárnabas, oor wie julle bevele ontvang het — as hy by julle kom, ontvang hom —”
KOLOSSENSE 4:10 AFR53
“En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus,”
HANDELINGE 4:36 AFR53
Skrywers glo dat Johannes Markus die skrywer van die boek Markus is. Hy het waarskynlik by Petrus meer geleer oor Jesus en dit aangeteken. Petrus het Markus as sy geestelike seun beskou. Markus is die kortste van die 4 evangelies. Dit handel meestal oor al die wonderwerke wat Jesus gedoen het.
“Die mede-uitverkorene in Babilon en Markus, my seun, groet julle.”
I PETRUS 5:13 AFR53
Later skryf Paulus uit die tronk oor Markus en ek neem aan dit dui op restorasie in hulle vriendskap.
“Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.”
II TIMÓTHEÜS 4:11 AFR53