Jou roeping
- 3 minutes read - 618 wordsLees Exodus 1-4.
Moses se werk was om kleinvee op te pas vir Jetro, sy skoonpa. Hy was by die berg Sinai (doringagtig) of Horeb (woestyn) wat ook die berg van God genoem word. Skielik het die Engel van die Here aan Moses verskyn uit ’n brandende doringbos, wat nie uitbrand nie. Toe Moses nuuskierig nader gaan het God met hom begin praat vanuit die bos. Dis belangrik om notisie te neem wanneer God met jou wil praat. Sou jy by die bos gestop het of lewe jy so ’n gejaagde lewe dat jy dit gaan mis wanneer God jou roep? God het onthul wie Hy is en daarna aan Moses meegedeel dat Hy sien hoe swaar die Israeliete kry. God het ’n oplossing gehad vir die probleem en wou Moses gebruik. Was Moses gekwalifiseerd vir sy roeping? Nee, dis wat dikwels gebeur wanneer God ons roep.
Satan wou van die begin af van Moses ontslae raak en het Farao gebruik om alle seuntjies dood te laat maak. Satan gebruik mense om sy vuilwerk te verrig. Moses se ma en suster het hom weggesteek en later het die Farao se dogter Moses in ’n biesiemandjie in die Nyl gevind. God het eers Moses se ma en suster en daarna die Farao se dogter gebruik om Moses se lewe te red. God gebruik soms ongeredde mense om jou lewe te red of makliker te maak. Dis belangrik om te weet elke mens wat geskape is, het ’n skeppingsdoel. Die oomblik wat jou ma swanger geraak het met jou het satan begin beplan om jou saam met hom hel toe te neem. So moenie verbaas wees wanneer satan jou aanval nie. Gelukkig het God reeds wonderlike planne vir jou neergeskryf voor jy gebore is (Ps 139:13-16). Selfs al het Moses ’n Egiptenaar vermoor het God steeds ’n plan gehad vir Moses. Jou foute diskwalifiseer jou nie.
Moses self het ook nie gedink hy kan God se roeping aanvaar nie. Toe Moses vir God wou sê dat hy in geen posisie is om na die Farao te gaan nie het God hom verseker dat Hy met hom is. As jy dus vandag ongekwalifiseerd voel, weet dat God met jou is. Wanneer jy minderwaardig voel lê die oplossing in God se teenwoordigheid (Jos 1:9). Jy is ’n kind van die enigste ware Koning. Niks is te moeilik vir God nie (Gen 18:14, Jer 32:27). God het Moses en die swaarkry van die Israeliete raakgesien. God sien vandag steeds jou swaarkry en pyn raak. Hy wil steeds help. God het ook voorsiening gemaak vir die Israeliete se toekoms. Die vroue moes goud, silwer en klere by die Egiptenare kry. God sal jou ook nie stuur sonder voorsiening vir jou toekoms nie.
God het vir Moses tekens gegee om die ander Israeliete te oortuig dat God wel met Moses gepraat het. Ongelukkig het Moses steeds vasgestaar teen sy aardse spraak belemmering. God wou Moses gebruik ten spyte van sy gebrek en God het kwaad geraak en gevolglik voorgestel dat Aäron, Moses se broer, die praatwerk doen. Moenie jou vasstaar teen jou gebrek of tekort nie. Moenie dat dit jou terughou nie. God het jou gemaak, Hy ken jou en weet dat jy tot alles in staat is as jy op Hom vertrou (Fil 4:13). Moses het gesterf toe hy 120 jaar oud was (Deut 34:7). Hy was dus reeds oud (+-80] toe God Hom geroep het. Moenie dink jou ouderdom diskwalifiseer jou nie (Jer 1:6-7). Jy is nie te oud of te jonk om jou roeping te aanvaar nie. Vandag word Moses onthou as ’n wonderlike man van God, wat die Israeliete uit Egiptiese slawerny, na vryheid gelei het. Hoe gaan jy onthou word?