JOU SIEL
- 3 minutes read - 587 words‘n Mens bestaan uit liggaam, siel en gees. Ons siel bestaan uit ons wil, verstand en emosies. Ons siel moet gered en hernu word. Ons gees is perfek. As dit sleg gaan met jou siel dan gaan dit sleg met jou. En ook andersom, as dit goed gaan met jou siel gaan dit goed met die hele mens.
“Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;”
III JOHANNES 1:2 AFR53
Dit is dus belangrik dat jy moet seker maak dat jou siel gesond is. Wanneer jy werklik besef dat God altyd goed is kan jy leer om Hom te vertrou. Dan kan jy jou wil maklik laat gaan om God se wil te doen. Jy weet dan dat God se planne is altyd beter is as enige van jou eie planne. Ongelukkig het baie mense ‘n wantroue in God omdat hulle nie altyd hulle aardse ouers kon vertrou nie. Lees jou Bybel totdat jy ‘n openbaring het dat God ‘n liefdevolle Vader is wat altyd die beste vir Sy kinders wil hê.
Dan moet jy jou gedagtes hernu (Romeine 12:2). Jou lewe kan nie meer deur logiese denke beheer word nie. God se dinge lyk soos dwaasheid vir die wat in die vlees lewe (1 Korinthiërs 2:10-16). Jy moet soos ‘n kind word en in die bo-natuurlike begin glo. Wanneer jy siek is of ‘n tekort ervaar moet jy weier om dit te aanvaar. Jy kan nie langer die leuens glo wat die vyand in jou ore fluister nie. Wanneer satan leuens in my ore probeer fluister begin ek om God te loof en prys (Jakobus 4:7-8). Jy moet lewe spreek oor dooie bene en roep die dinge in wat nie bestaan nie, asof hulle reeds bestaan (Eségiël 37, Romeine 4:17).
Jy moet ook leer om jou emosies in beheer te hou. Ek vind dat ek nie noodwendig my emosies altyd doelbewus hoef te beheer nie. Ek neem aan dit is verskillend vir ons almal. Hoe meer tyd ek by Jesus spandeer hoe rustiger is ek en hoe minder ry my emosies wipplank. Ek glo dat God se Gees dan oorneem en my rustig hou. Wanneer jy toelaat dat jou gedagtes met jou weghardloop en satan al sy vullis op jou aflaai gaan jou emosies wipplank ry. Ek het hierdie week een oggend geheel en al my “cool” verloor. Ek was moeg nadat ek inkopies gedoen het en skielik stop ‘n motor reg voor my om iemand af te laai. Ek kon ook nie verbyry nie want daar was nog iemand besig om mense af te laai aan die anderkant van die pad. Was hulle verkeerd? Ja, natuurlik, maar ek wil nie my humeur verloor nie, selfs wanneer ander mense verkeerd optree nie. Ek is verantwoordelik hoe ek optree. Ek het dadelik vir Jesus jammer gesê en besef dat ek met Jesus moet gesels of in tale moet praat wanneer ek moeg voel. Ondersoek jouself en kyk wat is jou “triggers” en werk daaraan. Vra God se Gees om oor te neem in die areas waar jy swak is.
Tonele wat oor en oor in jou gedagtes afspeel kan jy vrystel uit jou siel, in die naam van Jesus. Vergewe die wat jou te nakom. Jy moet dan doelbewus kies om jou gedagtes te vul met goeie dinge (Kolossense 3:1-2, Filippense 4:8).
Hoe meer jy oorgee aan God se wil, hoe makliker sal dit word om in die gees te lewe.