JOU SKULD IS TEN VOLLE BETAAL
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 304 wordsBaie jare gelede het ek ‘n motoris ‘n kans gegee om voor my deur die tolhek te ry. Toe dit my beurt was om te betaal moes ek hoor die motoris voor my het reeds my tolgeld betaal. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Stel jou voor iemand kom en betaal jou skuld (huis, motor of kredietkaart), en dan almal se skuld in jou straat, en dan almal se skuld in jou stad en dan almal se skuld in die wêreld. Niemand gaan “nee dankie” sê nie.
Ons is bly wanneer iemand ons finansiële skuld betaal. Hoeveel blyer moet ons nie wees dat Jesus gekom het om almal se skuld te betaal nie? Niemand hoef hel toe te gaan nie. Ons kan almal verewig saam met Jesus in die Hemel woon. Jesus is die enigste Een wat betaal vir sonde; geen mens hoef ooit te betaal nie. Ons kan nie verwag dat ander mense moet betaal vir hulle sonde nie. As iemand sterf sonder om Jesus te aanvaar kies hulle dit en dan is daar nagevolge. Dit is God se begeerte dat almal gered word.
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,”
I TIMÓTHEÜS 2:3-6 AFR53
“en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;”
MATTHÉÜS 6:12 AFR53
“En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.”
LUKAS 6:37 AFR53