JOU TENT
- 3 minutes read - 481 wordsOns weet God wou altyd by die mens wou wees. Hy het met Adam en Eva gewandel in Eden. Later het Hy aan Abraham, Jakob en Moses verskyn. In Moses se tyd moes die Israeliete ‘n tent maak, waar God kon verskyn aan Sy kinders.
“Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos 'n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, 'n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.”
EXODUS 33:11 AFR53
Die tent was ‘n plek waar mense naby die Vader kon wees. Dit is wat ons vandag intimiteit met God noem. Later in die tyd van Koning Salomo het God in die tempel verskyn. Baie goed in die Ou Testament is skaduwees van die beter dinge wat kom. Die Nuwe Testament leer vir ons dat Christene ‘n tempel is waarin Jesus woon (1 Korinthiërs 3:16-17, 6:19-20). Hy woon nie in geboue nie, maar binne Sy kinders.
“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
MATTHÉÜS 1:23 AFR 53
Ek het nooit daaraan gedink dat die tent ook moontlik ‘n skaduwee vir iets meer kan wees totdat ek daarvan gelees het in Ruth Carneal (Stories from the glory: Glimpses of eternity now, Kevin Zadai) se boek nie. Ruth het verwys na die volgende bybelverse:
“JUBEL, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die Here. Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.”
JESAJA 54:1-3 AFR53
Ek het altyd verstaan dat vers 2 ons aanmoedig om outoriteit te neem en veral geestelike land, maar ook fisiese land oor te neem. Ruth verduidelik dat God ons wil strek en rek en Hy wil ons uit gemaksones laat beweeg. Dit was vir my vars openbaring vir hierdie verse. Staan jou tent wyd oop om meer van God te ontvang? Slaan jy jou penne diep in en weier jy om te beweeg totdat jy meer intimiteit en dieper ervarings met die Vader het? Maak jy jou lyne lank om meer plek in jou lewe vir God te maak? Verhinder jy die werking van die Gees omdat jy te haastig is of sien jy nie raak wanneer Hy werk nie? Ons wil almal geboorteskenk aan nuwe dinge (Jes 54:1) en ons wil almal voorspoed (Jesaja 54:3) ervaar, maar die sleutel om dit te laat gebeur lê in intimiteit (Jesaja 54:2) met Hom.