JY IS DIE EEN VIR WIE JESUS LIEF IS
- 2 minutes read - 347 wordsOntwikkel ‘n Jesus fokus en nie ‘n sonde fokus nie. As jy net jou eie foute of ander se foute raaksien sal jul sukkel om Jesus raak te sien. Wanneer jou oë gevestig is op Jesus dan weet jy Hy het vir alles betaal. Jy sal jou eie potensiaal en ander mense se potensiaal raaksien. Jy sal weet dat God jou oneindig baie liefhet. Toe die verlore seun net aan homself gedink het, het hy tussen die varke beland. Toe hy aan sy vader dink kon hy teruggaan na hom en soos ‘n koningskind leef.
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”
MATTHÉÜS 22:37-40 AFR53
“Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53
Wanneer jy weet Jesus het jou lief kan jy ander liefhê met Jesus se liefde. Johannes, die dissipel, het homself die een “vir wie Jesus liefgehad het” genoem (Johannes 13:23). Jy is die een vir wie Jesus lief is. Soms moet jy net stilstaan en jouself herinner dat Jesus lief is vir jou. Jesus se liefde en die Heilige Gees is jou “brandstof” vir die lewe. Dit is wat jou laat aangaan wanneer jy dink jy kan nie meer nie. Vul jouself op met Sy liefde. Net soos ‘n motor nie sonder brandstof kan beweeg nie, kan Christene nie vorentoe beweeg sonder Jesus se liefde nie.
Luister na “I am your beloved” van Jonathan en Melissa Helser. Dit herinner jou daaraan dat jy Jesus se geliefde is en dat jou naam op Sy handpalms geskryf is (Jesaja 49:16).