Jy is vry van die wet
- 3 minutes read - 599 wordsGalásiërs 3 -5
“Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”
MATTHÉÜS 22:36-40 AFR53
Jesus het dit so eenvoudig gemaak. As jy God liefhet sal jy Sy skepping liefhet en ook gehoorsaam wees aan Hom. Ek sien gereeld hoe mense weer wette en reëls en regulasies wil maak. As jy na Paulus se briewe en instruksies kyk dan sien jy dat hy spesifieke probleme in spesifieke areas aangespreek het. Dit is baie handig as jy ‘n antwoord soek vir ‘n probleem. Baie mense sit egter al die instruksies bymekaar en preek dit asof dit ‘n stel nuwe wette is. Paulus waarsku die Galásiërs hieroor in hoofstuk 3.
“Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?”
GALÁSIËRS 3:3 AFR53
Jesus het gekom om ons vry te maak van die wet. Wette is nodig waar daar nie Heilige Gees leiding is nie. Vanaf die begin wou God ‘n intieme verhouding met elke mens hê. Hy wou saam met die mens wandel en kommunikeer in die tuin. Later in Moses se tyd was die Israeliete bang vir God a.g.v. hulle sonde. God het toe die wet gegee op kliptafels wat in die verbondsark gehou moes word. Die verbondsark moes met pale gedra word op die skouers van mense. Die wet het fisies en geestelik swaar gerus op die skouers van die mense. Jesus het gekom om die las lig te maak.
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”
MATTHÉÜS 11:28-30 AFR53
“Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.”
I JOHANNES 5:3 AFR53
Abraham se geloof het vir hom geregtigheid gegee. Die wet is eers 430 jaar later gegee. Geloof bring geregtigheid en nie die wet nie.
“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.”
GALÁSIËRS 4:4-7 AFR53
Jesus het ons vrygemaak van die wet. Jy is nou ‘n kind van God en nie meer ‘n slaaf van die wet nie. Laat die Heilige Gees jou lei om hierdie vryheid tot eer van God te gebruik.
“Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop.
Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
GALÁSIËRS 5:5, 13-14 AFR53
“Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.”
GALÁSIËRS 5:18 AFR53