Kapérnaüm
- 2 minutes read - 253 wordsNadat Jesus uit Násaret verdryf is het Hy na Kapérnaüm gegaan. Kapérnaüm was ‘n florerende stad wes van die See van Galiléa, naby die plek waar die Jordaanrivier by die meer invloei.
Kapérnaüm : Strong’s G2584 - dorp van Nahum of dorp van vertroosting.
Nahum: Strong’s H5151 - vertroosting. Nahum was ‘n profeet wat die Bybelboek Nahum geskryf het. Dit bestaan uit 3 hoofstukke. Die eerste hoofstuk bring vertroosting en die volgende 2 hoofstukke waarsku Ninevé dat hulle tot ‘n val sal kom a.g.v. hul menigte sondes.
Die inwoners van Kapérnaüm het vertroosting in Jesus gevind. Jesus het baie wonderwerke gedoen en die mense wou Jesus daar hou. Die mense van Kapérnaüm was vriendelik en dit was waarskynlik ‘n plek van vertroosting vir Jesus nadat Sy geboortedorp Hom verwerp het. Jesus het ‘n keuse gehad. Hy kon in Sy gemaksone by Kapérnaüm bly of Hy kon die Vader se wil doen?
“En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie. Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur. En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.”
LUKAS 4:42-44 AFR53
Jesus stel vir ons ‘n voorbeeld. Gaan ons bly waar ons vertroosting vind of gaan ons die Vader se wil doen? Waarvoor is jy gestuur?