KEN GOD
- 6 minutes read - 1159 words“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
SPREUKE 3:6 AFR53
Laat God toe in elke area van jou lewe. As jy ’n goeie lewe wil hê moet jy God deel van jou lewe maak. Hy moet deel wees van die moeilike en die maklike goed. Hy moet deel wees van jou werk, jou ontspanning, jou familie, jou verhoudings, jou seerkry en jou geluk. Hy moet ook deel hê in jou besluite. As jy al die besluite wil neem is daar nie plek vir God in jou lewe nie. Jy kan nie langer op die troon sit nie; God moet op die troon van jou lewe sit.
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
JOHANNES 14:6-7, 17, 26 AFR53
Om te weet van God is nie dieselfde as om God te ken nie. Die duiwel weet ook van God (Jakobus 2:19). Jesus sê as ons Hom ken sal ons die Vader ook ken. Ons kan Jesus leer ken deur die Woord (Jesus is die Woord, Johannes 1:1-4) te lees. Ons kan bid/praat met God. Jesus wil jou beste vriend wees. Ons kan ons eie persoonlike, intieme verhouding met God hê. En Jesus het ons nie alleen gelos nie, Hy het die Heilige Gees as ons trooster gegee. Die Heilige Gees woon binne jou. Wanneer jy God ken, kan jy vrede ervaar in ’n krisis, want die Heilige Gees is daar by jou. Soms fluister Hy in jou oor of weet jy net wat in die toekoms gaan gebeur. Soms sal God deur drome of visioene met jou kommunikeer. Soms hoor jy ’n duidelike stem of jy hoor skielik ’n sinsnede en jy weet dis nie iets wat jy gedink het nie.
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
JOHANNES 17:3 AFR53
Wanneer jy God ken sal jy die ewige lewe beërwe. Jy weet jy sal Hemel toegaan en nie in die ewige verderf beland nie. Gehoorsaamheid aan God wys dat jy God ken. Jy ken Hom so goed dat jy weet Hy weet wat’s die beste vir jou. Jy weet jy kan Hom vertrou en Sy raad volg. Om God te ken is om altyd te weet dat Hy goed is.
“EN hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom — en sy gebooie nie bewaar nie — is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.”
I JOHANNES 2:3-6 AFR53 “Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken. Ek het aan julle geskrywe, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.”
I JOHANNES 2:13-14 AFR53
Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Ons ken die Waarheid en dit is Jesus, die Seun van God.
“En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen uit die waarheid is nie. Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.”
I JOHANNES 2:20-22 AFR53
Wanneer mense bly sonde doen is dit omdat hulle God nie ken nie.
“KYK wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”
I JOHANNES 3:1, 6, 9 AFR53
Deur liefde aan ander te gee wys ons dat ons God waarlik ken, want God is liefde. As jy mense, wat jy sien haat, het jy God ook nie lief nie en ken jy Hom nie.
“Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”
I JOHANNES 4:5-8, 16 AFR53
Ons almal gaan eendag voor God staan en jy wil nie dan uitvind dat jy van God geweet het, maar Hom nooit leer ken het nie. Maak seker jy ken God.
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
MATTHÉÜS 7:21-23 AFR53 “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.”
I JOHANNES 5:20 AFR53