KEN JOU VRIENDE
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 389 wordsLees Esra 1-6.
Nebukadnésar het die eerste tempel verwoes en die Jode is weggevoer na Babel. Die laaste koning van Juda sterf en vir 70 jaar is die Jode weg van Israel in ‘n sondige land. Tydens Bélsasar se koningskap word Babel tussen die Mede en Perse verdeel. God het die hart van Kores, die koning van Persië, aangeraak en hom opdrag gegee om die Jode toe te laat om terug te keer na Jerusalem. Kores het 5400 tempel voorwerpe teruggegee en belowe om vir die oprig van die tempel te betaal. Kores was ‘n magtige leier en tog het hy geluister en God gehoorsaam. Kores was ‘n vriend van die Jode.
“So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.”
ESRA 1:2 AFR53
Nadat die fondamente gelê is het ‘n groep Samaritane aangebied om te help met die bou van die tempel. Hulle het voorgegee dat hulle ook God heelhartig volg en dat die tempel in Jerusalem vir hulle belangrik was. Serubbábel wou nie hulle hulp aanvaar nie. God het reeds sy Gees laat rus op almal wat moes help. Die Samaritane besluit toe om die bou van die tempel stop te sit. Hulle het vals aanklagte teen die Jode en Jerusalem gebring. Die bouery is tydelik gestop totdat koning Darius later skriftelike bewyse van Kores se belofte aan die Jode gesien het. Die Samaritane kon ‘n vertraging veroorsaak, maar nie die bouery stop nie.
Dit is so belangrik om na Heilige Gees te luister as dit by vriende kom. Mense wat lyk en klink soos Christene dra nie altyd God se belange op die hart nie. Jy is ‘n tempel van God en jy moet jou vriende versigtig kies sodat hulle nie vertragings veroorsaak nie.
“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.”
EFÉSIËRS 2:19-22 AFR53