KERSBOOM OF AFGOD?
Janine Forsyth
- 8 minutes read - 1572 words“Want die insettinge van die volke is nietigheid; want 'n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van 'n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.”
JEREMIA 10:3-5 AFR53
Jesus moet Christene se eerste liefde wees en as jy iets of iemand belangriker ag kan dit ‘n afgod word. In die Ou Testament het die Israeliete van tyd tot tyd besluit om ‘n dooie struktuur te aanbid. Hulle het ‘n besluit geneem om hul rug op God te draai en iets anders te aanbid. ‘n Ambagsman sou ‘n boomstomp neem en ‘n beeld daaruit maak en dit dan aanbid. Gevolglik sou ‘n bose gees daarin woon. Soms het hul ook ‘n gegote beeld uit metaal gemaak soos die goue kalf in Exodus 32. In Jeremia 10 het die Israeliete ‘n houtbeeld met silwer en goud versier en baie mense assosieer dit met ‘n kersboom. In Jeremia 7 bak hulle koek vir die hemelkoningin. Beteken dit dat ons afgode aanbid elke keer as ons koek bak? Natuurlik nie; ek glo dieselfde argument geld vir die kersboom. Ek vier Jesus gedurende Kersfees met ‘n kersboom, baie versiersels en vrugtekoek. Ek aanbid God elke dag van die jaar. Ek glo Jesus is my Verlosser en Heilige Gees is altyd met my. Ek aanbid nie ‘n dooie boom of offer vrugtekoek vir gode nie. Gaan jy toelaat dat satan Kersfees van jou steel? Kom ons praat meer oor Jesus hierdie Kersfees.
“Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg.”
JEREMIA 7:18 AFR53
“En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet — is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?”
JEREMIA 44:19 AFR53
“EN die Here het vir my gesê: Gaan nog 'n keer, bemin 'n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die Here die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend en versot is op rosynekoeke.”
HOSÉA 3:1 AFR53
“Die timmerman span 'n lyn; hy trek hom af met 'n potlood; hy bewerk hom met skawe en teken hom met 'n passer en maak hom na die beeltenis van 'n man, na die skoonheid van 'n mens, om in 'n huis te woon. Een gaan sederbome afkap, en hy neem 'n steeneik of 'n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het 'n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak. Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar 'n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar 'n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer. Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien! En van wat oor is, maak hy 'n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god! Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan 'n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor 'n stuk hout? Hy wat hom besig hou met as, 'n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?”
JESAJA 44:13-20 AFR53
“Vervloek is die man wat 'n gesnede of gegote beeld maak, 'n gruwel vir die Here, werk van 'n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die hele volk moet antwoord en sê: Amen.”
DEUTERONÓMIUM 27:15 AFR53
“Die afgode van die heidene is silwer en goud, 'n werk van mensehande. Hulle het 'n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; ook is daar geen asem in hulle mond nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word — elkeen wat op hulle vertrou.”
PSALMS 135:15-18 AFR53
“Hulle het die volke nie verdelg soos die Here aan hulle gesê het nie, maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet — die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het — sodat die land deur bloedskuld ontheilig is. En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade.”
PSALMS 106:34-39 AFR53
“En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.”
OPENBARING 9:20 AFR53
“En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien. Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe — en daar was 'n gat in die muur. En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was 'n deur. Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen. Ek gaan toe in en kyk — en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsánja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die Here sien ons nie; die Here het die land verlaat. En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen. Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die Here, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die Here; en kyk, by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf-en-twintig man, met hulle rug na die tempel van die Here en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste. En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou! Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.”
ESÉGIËL 8:6-18 AFR53
“En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar 'n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor 'n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die Here. En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.”
EXODUS 32:2-6 AFR53