KLEIN JAKKALSIES
- 3 minutes read - 427 wordsIn Johannes 15 sê Jesus dat Hy die wynstok is en die Vader die boer is. Elkeen van is soos ‘n loot wat deel is van die wynstok (Jesus). Die boer snoei die onvrugbare lote sodat net die vrugbare lote oorbly. Ons moet in Jesus bly en dan sal ons goeie vrugte kan dra. Sonder Jesus kan ons dit nie doen nie.
“Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei.”
HOOGLIED 2:15 AFR53
Die hele Hooglied van Salomo is ‘n liefdesbrief van Jesus aan ons. Ons kry egter ‘n waarskuwing dat “klein jakkalsies” ons verhouding en intimiteit met Jesus wil verniel. Wanneer ons in Jesus bly kan ons goeie vrugte dra, maar soms gebeur dit nie, want ons vergeet (of is onbewus) van die “klein jakkalsies” wat insluip en ons verhouding verniel.
Andrew Wommack sê altyd ons bid verkeerd, want ons smeek vir goed wat ons vrylik kan ontvang.
Kenneth Hagin het glo gesê ons sal minder bid as ons net glo wat die Bybel sê.
Soos ek die Bybel lees en na goeie preke luister ontdek ek gedurig goed wat ek verkeerd verstaan het. Sommige van hierdie dinge word steeds in kerke gepreek. Die mees algemene “klein jakkalsie” is dat die Heilige Gees nie meer aktief werk deur Christene nie. Daar word geglo dat predikers ‘n roeping en boodskap van God ontvang, maar niemand anders nie. Die Bybel maak dit duidelik dat nadat Jesus opgevaar het is die Heilige Gees uitgestort. Die Heilige Gees is hier vir ewig en vir alle Christene. Die voorhangsel van die tempel het geskeur sodat elkeen van ons toegang verkry het tot God deur Jesus.
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
JOHANNES 14:6-7, 12, 16-17 AFR53