KYK
- 5 minutes read - 963 wordsIn die boek van Openbaringe het Johannes het baie dinge gesien wat in die toekoms gaan gebeur. Toe die profeet Jeremia deur God geroep is het hy geen ondervinding gehad hoe om ‘n profeet te wees nie. God moes hom leer hoe om te sien. Jy is miskien nie geroep tot ‘n profeet nie, maar elke kind van God is ‘n koning en ‘n priester en omdat jy in God se beeld gemaak is moet jy kan sien wat in die toekoms gaan gebeur. God wil jou leer om te sien en dit begin deur te kyk.
Wanneer iets gebeur, moet jy nie dadelik uit jou vlees regeer soos die media nie. Hierdie wêreld sien slegs satan se weergawe van die feite en kyk glad nie na Bo nie. Die wêreld verwag altyd die ergste en die slegste om enige oomblik te gebeur.
“Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie!”
JEREMIA 5:21 AFR53
“Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.”
JESAJA 6:10 AFR53
“Mensekind, jy woon onder mense van die wederstrewige huis, wat oë het om te sien, maar nie sien nie; ore het om te hoor, maar nie hoor nie, want hulle is 'n wederstrewige huis.”
ESÉGIËL 12:2 AFR53
“Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.”
MATTHÉÜS 13:13 AFR53
“Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”
HANDELINGE 28:27 AFR53
“Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.”
ROMEINE 11:8 AFR53
Dis ‘n situasie wat oor en oor herhaal word in die Bybel en gebeur steeds vandag. Die profete in die Ou Testament het verstaan dat daar ‘n wêreld om ons is wat meer werklik is as die een wat jy met jou fisiese oë kan sien. Elísa kon sien dat wanneer Hy tot God bid, God getrou is en Sy engele stuur om hom te kom help. Elísa se dienskneg kon slegs die vyand se soldate raaksien. Elísa het tot gebid en gevra dat sy dienskneg se oë geopen word sodat hy ook God se leërskare kon raaksien (2 Konings 6:17).
Wanneer iets gebeur moet jy jouself afvra is dit God se wil? Is dit God se wil dat jy siek is? Is dit God se wil dat jy finansiële probleme het? Nee, natuurlik is dit nie. Is dit God se wil dat jy jou werk verloor het? Miskien wou God lankal hê jy moes bedank en wag ‘n baie beter posisie lankal vir jou. Jou situasie is uniek. Moenie na mense kyk vir antwoorde nie. Kyk na God. Wat sê die Woord? Hoe sal die situasie lyk wanneer ek uit die Hemel afkyk daarna? Satan gaan saam met die wêreld fluister dis jou eie skuld dat hierdie slegte ding gebeur het. Satan laat jou skuldig voel oor sonde waarvoor jy lankal jammer gesê het. Satan sal jou baie duidelik laat sien wat sy weergawe van die storie is. Nou moet ons kyk wat God ons wil laat sien? Dis belangrik om te weet daar is ‘n werklikheid om jou wat nie sigbaar is met jou fisiese oë nie. Ek vind ek sien en hoor die beste uit ‘n posisie van vrede. Terwyl ek voel of ek iemand se nek wil omdraai kan ek nie sien en hoor wat God se hart is nie. Kies om te vergewe en stel die mense wat jou ontstel vry. Bind dan God se liefde en vrede aan jou siel. God gee my dikwels antwoorde deur drome. Wanneer ek min tyd by God deur die dag spandeer sal ek soms glad nie daardie nag droom nie. Ek kan dikwels 3 drome in die oggend onthou. Wanneer ek stil raak sal God vir my visioene gee. Visioene en drome moet jy neerskryf en dadelik werk maak daarvan om te verstaan. Almagtige God wil met jou praat. Hy wil verhouding bou met jou en jou help om te hoor wat Hy sê. Soms weet ek net iets of ek kry ‘n sinsnede en weet dis nie iets wat ek self sou dink nie.
Ek sien baie gereeld nommers en moes leer wat dit beteken. Ek het ‘n spesifieke probleem oor en oor ervaar. Dikwels sal ek dan 14 14 op die horlosie sien.
“Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”
EXODUS 14:14 AFR53
Moses en die Israeliete was vasgedruk tussen die berge en die Rooisee en Farao en sy soldate was oppad. God self het ‘n pad oopgemaak deur die see. Dit is wat God vir my wil wys wanneer ek vasgedruk is en geen oplossing sien nie. Hy sê dan vir my Hy sal vir my stry, ek moet rustig en in vrede bly, Hy het ‘n oplossing vir hierdie spesifieke probleem. Hy gaan ‘n pad oopmaak vir my. Ek sien nie dadelik die oplossing nie, al wat ek sien is ‘n nommer. Ek begin dan God loof en prys dat Hy die oplossing het. Ek glo baie mense mis God se antwoorde omdat hulle kyk, maar nie sien nie. Leer om te kyk wat God vir jou wil wys.