KYK NA DIE TEKENS
- 4 minutes read - 766 words“En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.”
GÉNESIS 1:14 AFR53
“En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”
HANDELINGE 2:19-21 AFR53
Die tekens in die natuur moet ons nie bang maak nie. Die tekens moet ons aanmoedig om nader aan God te kom.
“So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie.”
JEREMIA 10:2 AFR53
Die weervoorspelling wys dat dit vandag 12 Julie, net 12 grade Celsius gaan word hier in Kaapstad. Twaalf is die nommer van God se regering. Dis tyd dat ons saam met God regeer oor die aarde soos die 12 stamme in die Ou Testament en die 12 dissipels in die Nuwe Testament. Dis nie toevallig dat ons 12 ure elke dag en 12 maande elke jaar het, om te regeer nie. Jesus was 12 toe Hy by die skrifgeleerdes, in die tempel in Jerusalem, agtergebly het. Jesus het dus reeds op die ouderdom van 12 jaar begin regeer. Dis hoogtyd dat God se kinders saam met Hom regeer.
Die laaste paar maande het ek meer reënboë gesien as ooit tevore. God het my herinner dat ’n reënboog ’n bietjie Hemel op aarde is. Die reënboog herinner ons aan God se beloftes en dat Hy altyd by ons is.
“En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie.”
GÉNESIS 9:12-15 AFR53
“En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ’n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ’n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ’n smarag.”
OPENBARING 4:2-3 AFR53
Gister het daar ’n wolk oor Tafelberg gehang, wat soos ’n “halo” gelyk het. Miskien wil God regtig sê Kaapstad (Slaapstad) word wakker vir Jesus. Kyk ’n bietjie rond wat God vir jou stad wil sê. Liewe Christen sit jou kroon op jou kop en regeer oor jou stad.
“MAAR vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie? In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.”
JOB 12:7-10 AFR53
“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie — onhoorbaar is hulle stem. Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ’n tent gemaak;”
PSALMS 19:2-5 AFR53
“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.”
ROMEINE 8:19, 22 AFR53
Al wat jy nodig het is geloof. Jesus het dit gedoen en daarom kan jy dit doen.
“En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is!”
LUKAS 8:25 AFR53