LASARUS
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 539 wordsLasarus: Strong’s G2976 - Een wat God help.
Ons lees van 2 mense met die naam Lasarus in die Bybel. In Lukas 16 vertel Jesus ‘n gelykenis van Lasarus en ‘n ryk man. Lasarus was ‘n arm man vol swere wat by die poorte van ‘n ryk man gelê het. Die honde het sy wonde gelek en hy was afhanklik van krummels van die ryk man se tafel. Die ryk man het ‘n wonderlike en weelderige lewe op aarde gehad.
Na hul dood was Lasarus in die boesem van Abraham en die ryk man in die doderyk. Dit was te laat vir die ryk man om sy lewe reg te ruk. Lasarus was “een wat God help”.
“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”
LUKAS 16:25-26, 31 AFR53
In Johannes 11 lees ons die verhaal van Lasarus, ‘n vriend van Jesus. Lasarus het siek geword en gesterf. Jesus het nie dadelik vertrek na Betánië nie en het eers daar aangekom nadat Lasarus reeds begrawe is. Jesus het Lasarus uit die graf geroep. Lasarus was “een wat God help”.
“Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.
“Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;”
Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.”
JOHANNES 11:3-4, 11, 25, 40-44 AFR53
Die stories van Lasarus moedig ons aan om Jesus te volg en Heilige Gees toe te laat om deur ons te leef. Wat ons in hierdie lewe doen bepaal waar ons die ewigheid sal deurbring. God wil almal help, maar ons moet kies om Hom te volg.