LEVIÁTAN
- 4 minutes read - 640 wordsEk het iemand hoor praat daaroor dat Leviátan op die oomblik ‘n groot rol in die chaos om ons speel. Ek wou meer weet en my hoofbron vir inligting is altyd die Bybel. Ek is geen kenner op die gebied nie, maar hier is alles wat ek kon vind.
Strong’s nommer H3882 - “Leviathan, sea monster, this refers both to a serpent-like sea creature and to a mythological monster of chaos opposed to the true God. It symbolizes mourning.”
‘The name Leviathan comes from the Hebrew Livyatan, which comes from a root that means “to twist, turn, wind, or coil.”’ Encyclopedia Britannica
Wat sê die Bybel oor Leviátan?
Job 3:8
Job 26:12-13
Job 41
Ps 74:13
Ps 104:26
Jesaja 27:1
Jesaja 51:9
Leviátan woon in die see en die Bybel noem hom ‘n seemonster.
Hy is deur God geskep.
Leviátan word ‘n krokodil en ‘n draak genoem.
Ook word hy ‘n slang, ‘n vinnige slang of ‘n kronkelende slang genoem.
Leviátan maak mense bang en is self vreesloos.
Hy is so sterk dat mense dit nie sal waag om hom te terg nie.
Vuurvonke kom uit Leviátan se mond en rook kom uit sy neus.
Sy hart is so hard soos klip.
Hy lei diegene wat trots is.
‘n Gewone swaard of spies of pyl kan hom nie seermaak nie.
God is groter en sterker as Leviátan. God het Leviátan deurboor en sal hom doodmaak.
Miskien sal ons nooit ‘n fisiese Leviátan sien nie, maar die geestelike Leviátan is steeds duidelik sigbaar hier op Aarde. Sy naam beteken letterlik om te verdraai. Wanneer die waarheid dus verdraai word is hierdie “owerheid, mag of wêreldheerser van die duisternis of bose gees”(Efésiërs 6:12, Johannes 10:10) teenwoordig. Satan is ‘n leuenaar en daarom sukkel mense wat onder sy invloed is om die waarheid te onderskei. Adam en Eva het in Génesis 3 reeds met Leviátan kennis gemaak. Die slang het die waarheid verdraai om Adam en Eva te kry om die verbode vrugte te eet. Daar is nou ‘n nuwe ding wat die wêreld “my waarheid” en “jou waarheid” noem. Glo my Jesus is die enigste “Weg, Waarheid en Lewe”. As jy iets glo wat teen die Bybel is het Leviátan jou verblind en glo jy satan se leuens. Die regering, kerk, dokters, geld, status en titels is nie die Heilige Gees nie. Lees jou Bybel met die Heilige Gees sodat jy God se hart en Jesus kan leer ken. Slegs die Waarheid kan jou vrystel.
Wanneer jy iemand vind met ‘n harde hart wat glad nie ontvanklik is om God se Woord aan te hoor nie is Leviátan moontlik daarvoor verantwoordelik. Jesus het aan die Fariseërs gesê dat hulle soos hul vader, die duiwel is (Johannes 8:44-47). Leviátan het ‘n harde hart en gee dit ook aan mense. ‘n Verharde hart verhoed dat mense tot bekering kom (Romeine 2:5).
“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”
ESÉGIËL 36:26-27 AFR53
Leviátan is die leier van diegene wat trots is. God haat hoogmoed, maar nederigheid beskou Hy as wysheid. Die wat trots is sal tot ‘n val kom (Spreuke 8:13, 11:2 Jesaja 2:11-12, 23:9, Jakobus 4:6,10), saam met Leviátan.
Ondersoek jouself en kyk of jy maklik mislei of verblind word. Watter leuens glo jy oor jouself? Het jy ‘n sagte hart wat omgee vir jou medemens en is jy nederig? Groei jy geestelik? Christene het outoriteit ontvang om duiwels uit te dryf en dis dalk nodig dat jy iemand kry om jou te help om bevryding te vind. Onthou Jesus het reeds gewen.