LEWENDE WATER
- 5 minutes read - 986 wordsGod het soms vreemde maniere om met my te praat. Die laaste paar dae is ek gedurig dors. Ek word selfs in die middel van die nag dors wakker. Iemand het iets genoem oor water en ek het net verse oor water begin raaksien en skielik het ek besef God wil met my praat oor water. Verlede nag het ek ’n droom gehad waar ek baie lus was vir ’n koue coke, maar al wat die mense my kon aanbied was louwarm water. Gas koeldrank simboliseer die Heilige Gees as ’n fontein van lewende water. God hou nie van louwarm nie (Openbaring 3:15-16). God is ons “fontein van lewende water”. Hy wil nie hê ons moet dinge sonder Hom doen nie. Ons moet op God leun en vertrou in alles wat ons doen. Hy is ons enigste bron van “lewende water.”
“Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”
JEREMIA 2:13 AFR53
Wanneer ons God se beminde is kan ons ook “’n fontein van lewende water” word.
“U is ’n fontein van die tuine, ’n put met lewende water wat van die Líbanon afvloei.”
HOOGLIED 4:15 AFR53“En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.”
JEREMIA 31:12 AFR53
“En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.”
OPENBARING 21:6 AFR53“En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
OPENBARING 22:17 AFR53
Dit is ’n goeie ding om dors te wees vir meer van God en ons kan gratis water ontvang. Ons hoef dit nie te koop of daarvoor te werk nie.
Johannes 19:28-29, Lukas 23:36, Markus 15:23 en Matthéüs 27:34,48 handel oor Jesus se kruisiging. Volgens Johannes het Jesus tydens Sy kruisiging gesê dat Hy dors was. Die soldate het vir Jesus asyn gegee, maar Hy wou dit nie drink nie. Psalms 69:22 is vervul deurdat die soldate vir Jesus asyn wou gee om te drink. Die ander 3 evangelies sê dat Jesus uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Was dit dalk ’n geestelike dors na die teenwoordigheid van Sy Vader?
Johannes 4:1-30
Die Samaritaanse vrou kon “lewende water” by Jesus drink. Die Samaritane en Jode het verskil oor waar God aanbid moes word en daarom het hul kontak met mekaar vermy. Die vrou was dus verbaas toe Jesus met haar praat. Nadat Jesus vir haar lewende water aangebied het, het sy besef Hy is die Messias is en het vir almal vertel.
“maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”
JOHANNES 4:14 AFR53 “Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
JOHANNES 4:21-24 AFR53
Onder die tempel in Jerusalem het water uitgevloei (Eségiël 47).
Ons weet dat alles op aarde ’n nabootsing is van dit wat ons in die Hemel vind. In die Hemel vloei daar water uit van onder God se troon (Openbaring 22:1). Vandag is elke Christen ’n tempel, want God se Gees woon binne in ons. Daarom behoort lewende water uit ons te vloei.
“Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”
I KORINTHIËRS 3:16 AFR53“Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53“En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”
JOHANNES 7:37-39 AFR53
Johannes 3:5 sê ons moet weer gebore word “uit water en die Gees”.
Wanneer ons Jesus aanvaar as ons Saligmaker word ons verlos uit ’n lewe van sonde. Ons drink dan die “lewende water”, Jesus, en ontvang dan die Heilige Gees. Ons gee onsself nie langer oor aan vleeslike begeertes nie, maar laat die Heilige Gees ons nou lei. Hoe meer tyd jy maak vir Jesus, hoe meer kan jy deur die Gees gelei word en jy sal soos ’n fontein vol lewende water word. Mense sal na jou kom vir hulp en jy sal hulle kan help, want jy is vol van God se Gees.