Loofhuttefees
- 4 minutes read - 692 wordsLoofhuttefees/ Huttefees/Sukkot:
Vrydag 29 September tot 6 Oktober 2023 (die fees begin en eindig met die sonsondergang).
Op die vyftiende van die sewende maand moes die fees gehou word. Die mense moes vrolik feesvier met palmtakke, wilgertakke en vrugte. Vir 7 dae moes hulle in hutte woon om hulle te herinner hoe God hulle uit Egipte gelei het. Die fees is gedeeltelik vervul. Vandag nog sal jy sien hoe die mense in Israel hulle stoepe met blomme en takke versier gedurende die fees. Jesus was die rots wat saam met die Israeliete getrek het en was daar in die Ou Testament by die Israeliete - 1 Korinthiërs 10:4. Terwyl die tempel in Jerusalem was moes die Jode jaarliks vir 3 feeste in Jerusalem bymekaar kom. Die huttefees was een van die feeste wat in Jerusalem gevier is. Jesus het die huttefees gevier - Johannes 7:2, 8-11, 14, 37.
Volgens Sagaría sal die huttefees gevier word in Jerusalem wanneer Jesus koning is. Ek vermoed dit verwys na die 1000 jaar Messiaanse tydperk (6000-7000). Dan sal ons almal saam met Jesus woon soos Hy tussen die Israeliete gebly het met die trek uit Egipte. Ek glo die fees sal dan ten volle vervul word.
“En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon. En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie.”
SAGARÍA 14:9, 11, 16-17 AFR53
“Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie;”
DEUTERONÓMIUM 16:16 AFR53
“En die Here het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Sewe dae lank moet julle aan die Here 'n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees, en julle moet aan die Here 'n vuuroffer bring. Dit is 'n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie. Dit is die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die Here 'n vuuroffer te bring: 'n brandoffer en spysoffer, 'n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die Here en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee. Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die Here sewe dae in die jaar vier. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God.”
LEVÍTIKUS 23:33-43 AFR53