Melgisédek
- 5 minutes read - 911 words“Melek” beteken koning en “sédek” beteken regverdig.
Melgisédek beteken dus “Koning van geregtigheid” of “My koning is regverdig”.
“En Melgisédek, die koning van Salem, wat 'n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.”
GÉNESIS 14:18-20 AFR53
Salem word vandag Jerusalem genoem.
“Jeru” kom van “Yireh” wat blyplek beteken.
“Salem” kom van “Shalem” (Shalom) wat vrede beteken.
Jeusalem beteken dus “Plek van vrede” of meer algemeen “Stad van vrede”.
Melgisédek was koning van Jerusalem.
Melgisédek was koning van geregtigheid.
Hy was koning van vrede.
Jesus is ook ons ewige koning, Vredevors en nog baie meer - Jesaja 9:5-6, Openbaring 17:14, 19:16.
Melgisédek het brood en wyn gebring en vir Abraham geseën. Dit is ‘n prentjie van Jesus (brood en wyn) wat Sy lewe sou gee om ons (Galásiërs 3:7) te seën.
Abraham het ‘n tiende aan Melgisédek betaal en dit is die eerste keer wat ons lees van tiendes in die Bybel. Baie later het die wet vereis dat mense tiendes moes betaal aan die Levitiese priesters. Vandag gee ons tiendes omdat ons Jesus liefhet.
Melgisédek was ouerloos, sonder geslagsregister, sonder geboortedatum of sterfdatum. Hy was gelykgestel aan Jesus.
Hy was hoërpriester van God en ewige priester. Jesus was die finale hoërpriester en Hy was uit die orde van Melgisédek. Die wet het vereis dat die ander priesters uit die bloedlyn van die Leviete moes wees, maar Jesus was uit die bloedlyn van Juda. Die Levitiese priesters het gesterf, maar Jesus leef vir ewig. Die Levitiese priesters en die wet kon ons nie red nie. Jesus het ons gered en is ons Koning en Priester vir ewig. Jesus het een maal betaal vir alles. Ons sal nooit weer nodig hê dat ‘n priester namens ons in die Allerheiligste ingaan nie (selfs wanneer die tempel weer opgerig word, in Jerusalem nie). Jesus was ook die finale offer en met Sy dood het die gordyn geskeur sodat elkeen van ons toegang het tot God, die Vader. Ons kan nou ‘n intieme verhouding met God hê.
“Die Here het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.”
PSALMS 110:4 AFR53
“So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hý het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op 'n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.”
HEBREËRS 5:5-6 AFR53
“Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem 'n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek;”
HEBREËRS 5:8-10 AFR53
“en ons het dit as 'n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek 'n hoëpriester geword het vir ewig.”
HEBREËRS 6:19-20 AFR53“aan wie Abraham ook 'n tiende deel van alles gegee het — hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur. Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, 'n tiende van die buit gegee het.
As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk die wet ontvang — waarom was dit nog nodig dat 'n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie? Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet;
En nog baie duideliker is dit as daar 'n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek,
Want Hy getuig: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.
omdat die wet niks volkome gemaak het nie; maar aan die ander kant is daar die invoering van 'n beter hoop waardeur ons tot God nader.
maar Hy met eedswering deur die Een wat aan Hom gesê het: Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek — in sover het Jesus van 'n beter verbond borg geword.
maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.
wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.”
HEBREËRS 7:2-4, 11-12, 15, 17, 19, 21-22, 24, 27-28 AFR53
Dis altyd so wonderlik om te sien dat alles in die Bybel ons altyd in die rigting van Jesus neem. Melgisédek wys ons ook na Jesus.