Merk op hand en voorkop
- 8 minutes read - 1695 wordsToe die Israeliete uit Egipte getrek het, het hul die eerste Pasga gehou.
God het hier vir die eerste keer gepraat van ‘n teken op die hand en voorkop. Dit was ‘n teken vir God se kinders.
“En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die Here aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het. En dit moet vir jou as 'n teken wees op jou hand en 'n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die Here in jou mond mag wees; want deur 'n sterke hand het die Here jou uit Egipte uitgelei.”
EXODUS 13:8-9 AFR53
“Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die Here al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die Here alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los. En dit sal as 'n teken wees op jou hand en 'n voorhoofsband tussen jou oë; want die Here het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei.”
EXODUS 13:15-16 AFR53
God herinner die Israeliete om Sy wet te onderhou en vir Hom lief te bly voordat hulle Kanaän intrek. Hy verwys weer na ‘n teken op die hand en voorkop. Die Woord moes ook in hul harte wees.
“Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here.”
“Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.”
DEUTERONÓMIUM 6:4-9 AFR53
“As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word. Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig, en die toorn van die Here teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die Here julle gee. Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as 'n teken op julle hand en laat dit as 'n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan; en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte, sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die Here aan julle vaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.”
DEUTERONÓMIUM 11:13-21 AFR53
Bogenoemde verse uit Deuteronómium word vandag steeds deur die Jode in ‘n klein hout houertjie geplaas en by hul voordeure vasgesit.
Dit word die Mezuzah genoem en dit is die Hebreeuse woord vir deurpos. Vir die oggend gebede sal Jode gebedsrieme (“phylacteries”) of Tefillah (meervoud Tefillin) aan hul arms of voorkoppe vasbind met dié skrifte binne-in. Die gebedsrieme word van diervelle gemaak.
Eségiël en Jeremia het geskryf dat daar ‘n nuwe verbond sou kom waar die wet op mense se harte geskryf sal wees. God wou reeds die wet op mense se harte plaas in Moses se tyd, maar die Israeliete wou nie ‘n intieme verhouding met Hom hê nie. Die wet wat Moses ontvang het was op kliptafels geskryf en in die verbondsark gehou. In die tyd van Eségiël en Jeremia se profesië word die eerste tempel verwoes en die verbondsark verdwyn. Die verbondsark en kliptafels met die wet was nooit in die tweede tempel nie.
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”
JEREMIA 31:31-34 AFR53
“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees.”
ESÉGIËL 36:26-28 AFR53
Nadat Jesus die hele wet onderhou het, het Hy gesterf en opgestaan. Jesus was die eersgeborene uit die dood (Pasga). Ons leef nou onder die nuwe verbond en die Heilige Gees lei ons om gehoorsaam aan God te bly.
“Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik 'n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. So 'n vertroue het ons deur Christus by God.”
II KORINTHIËRS 3:2-4 AFR53
Satan probeer alles nadoen wat God doen. Almal wat nie Jesus heelhartig volg nie is outomaties volgelinge van satan.
“EN uit die aarde het ek 'n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos 'n lam en het gepraat soos 'n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.”
OPENBARING 13:11-18 AFR53
Satan gaan in die toekoms ‘n merk op sy volgelinge plaas. Die merk sal natuurlik op die regterhand en voorkop wees. Regterhand in die Bybel simboliseer God se teenwoordigheid en daarom kies satan ook die mens se regterhand. Hy gaan selfs die dier uit die dood opwek om Jesus se opstanding te probeer nadoen. Die Antichristus sal ook in die tempel ingaan en hom voordoen as die Messias.
“En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie — hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. En ek het 'n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.”
OPENBARING 14:9-13 AFR53
God se volgelinge moet vol van Sy Gees wees sodat hulle nie mislei word nie. Dra God se Woord in jou hart en laat dit jou merk wees. Onthou God kyk na jou hart.