MEULSTEEN
- 3 minutes read - 506 wordsTwee groot swaar sirkelvormige klippe is bo-op mekaar geplaas om ‘n meulsteen te vorm. Die onderste klip was swaarder en kon nie beweeg nie. Die koring is daarop geplaas terwyl die boonste klip daaroor moes beweeg om die koring te maal.
Rigters 9:53, 2 Samuel 11:21
Die sondige koning Abiméleg is ernstig beseer toe ‘n vrou ‘n boonste meulsteen na sy kop gegooi het.
Job 41:15
Leviátan, die see monster, se hart was so hard soos die onderste meulsteen.
“EN Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom.”
“Dit is beter vir hom as 'n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.”
LUKAS 17:1-2 AFR53 (Matthéüs 18:6, Markus 9:42)
Die Bybel maak dit duidelik dat enige persoon wat ‘n jonger of minder ervare mens verlei beter af sou wees deur te sterf met ‘n meulsteen om sy nek in die see. Markus 9 gaan verder deur te sê kap jou ledemate af as hulle vir jou ‘n struikelblok word. Dit is beter om ‘n ledemaat te verloor as om in die ewige verderf te beland.
Die laaste verwysing na ‘n meulsteen in die Bybel vind ons in Openbaring.
Dit verwys na Babilon, die wêreldsisteem, wat rykdom belangriker ag as menselewens. Babilon sal aan die einde val soos ‘n meulsteen in die see. Die oneerlike wêreldsisteem sal verdwyn en nooit weer sigbaar wees nie.
“En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. En een sterk engel het 'n klip opgetel soos 'n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met 'n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie.”
OPENBARING 18:11-13, 21 AFR53
Ons leef in ‘n onregverdige wêreld waar ons sien hoe mense sleg behandel word. Ons hoor van afskuwelike dinge soos mensehandel, orgaanhandel en die dwelmhandel. Die onregverdige word ryk. Dikwels lyk dit asof Christene wat net eerlik wil leef die swaarste kry. Gelukkig weet ons ook hierdie lewe se swaarkry net tydelik is. Ek bid dat jy Hemel hier op aarde reeds sal ervaar. God sal afreken met die wêreld. Wanneer die struikelblokke kom moet ons oë op Jesus bly. Ons moet nooit deel van die probleem word nie.
“Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring geen voordeel nie, maar geregtigheid red van die dood. Die Here laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg.”
SPREUKE 10:2-3 AFR53