MIRRE
- 4 minutes read - 717 wordsDaar is 13 verse in die Afrikaanse Bybel wat na mirre verwys. Die KJV (King James Version) het 17 verse wat verwys na mirre. Ses van die verse in die Afrikaanse Bybel vind ons in Hooglied. Hooglied is ‘n liefdesbrief van Jesus aan Sy bruid. Dit was vir my moeilik om te verstaan wat die verse in Hooglied beteken totdat ek al die verse oor mirre in die Bybel gelees het.
“My beminde is vir my 'n bossie mirre wat tussen my borste rus.”
HOOGLIED 1:13 AFR53
“WIE is dit wat daar opkom uit die woestyn soos rookpilare, omgeurd van mirre en wierook, van allerhande speserye van die koopman?”
HOOGLIED 3:6 AFR53
“U spruite is 'n park van granate met kostelike vrugte, henna-blomme met nardus, nardus en saffraan, kalmoes en kaneel, met allerhande wierookstruike, mirre en alewee, met allerhande kostelike speserye.”
HOOGLIED 4:13-14 AFR53
“EK het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk; eet, vriende, drink en word dronk, bemindes. ek het opgestaan om vir my beminde oop te maak, terwyl my hande drup van mirre en my vingers van vloeiende mirre op die handvatsels van die grendel. Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup.”
HOOGLIED 5:1, 5, 13 AFR53
“Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.”
PSALMS 45:9 AFR53
Bogenoemde verse verwys almal na Koning Jesus. Die volgende vers wys hoe die vyand God se dinge probeer nadoen om die bruid te verlei.
“ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel —”
SPREUKE 7:17 AFR53
Mirre was 1 van die bestanddele vir die heilige salwingsolie (Exodus 30:23-30) wat in die tent van ontmoeting gebruik is.
Mirre was deel van Esther se skoonheidsroetine voordat sy voor Koning Ahasvéros verskyn het (Esther 2:12).
Met die geboorte van Jesus het die wyse manne goud, wierook en mirre as geskenke gebring (Matthéüs 2:11). Die wyse manne het die ster gevolg en daarom geweet ‘n koning is gebore en hulle geskenke was dus geskik vir ‘n koning.
Met Jesus se kruisiging het die soldate vir Hom wyn met mirre aangebied om te drink (Markus 15:23). Matthéüs 27:34 sê weer hulle het vir Hom asyn met gal gegee en toe Hy dit proe wou Jesus dit nie drink nie. Dit laat my dink dat mirre ‘n slegte smaak gehad en dus nie geskik was om te eet of drink nie.
Na Jesus se kruisiging het Nikodémus 100 pond mirre en alewee (aalwyn) gebring om Jesus se liggaam voor te berei vir die graf (Johannes 19:39).
Die woord “mirre” beteken bitter, dit kan na die smaak of na bitter pyn en lyding verwys (H4753, H4843, G5254- Strong’s Concordance). Volgens die TPT (The Passion Translation) Bybel het die Jode mirre beskou as die trane van die boom. Mirre het ‘n bitter smaak en ‘n skerp reuk. Mirre is die boomgom wat drup uit die bas van ‘n doringagtige boom. Wanneer dit droog word lyk dit soos trane, wat dan versamel word vir verskillende gebruike. (Encyclopedia Britannica)
Mirre was ‘n luukse en duur spesery. In die Nuwe Testament word 3 keer verwys na mirre en Jesus. Ons weet Jesus het 3 jaar lank gepreek, Hy het op die derde dag opgestaan en Hy is deel van ons drie-enige God. Mirre is gebruik as parfuum en vir die balseming van ‘n liggaam voor dit begrawe word. Elke keer wanneer ons in Hooglied lees van mirre verwys dit na Jesus se kruisiging. Dis ‘n profetiese prentjie van die bitter pyn en lyding wat na Sy dood sou lei. Mirre was duur en Jesus het duur betaal vir ons sondes. Die Bruidegom het uit liefde vir Sy bruid, Sy lewe gegee. Selfs met Jesus se geboorte was mirre een van die geskenke, wat simboliseer dat Jesus gebore is om vir ons te sterf.
Jesus is ook soos ‘n aangename geur vir ons en die Vader. Ons moet dan ook ‘n aangename geur vir die Vader wees.
“Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;”
II KORINTHIËRS 2:15 AFR53