MOABIETE
- 6 minutes read - 1239 words“So het dan die twee dogters van Lot by hulle vader bevrug geword, en die oudste het 'n seun gebaar en hom Moab genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Moabiete. En die jongste het ook 'n seun gebaar en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader van die hedendaagse Ammoniete.”
GÉNESIS 19:36-38 AFR53
Die Moabiete was Lot se nageslag. Die Moabiete het in vandag se Jordanië, oos van die Dooie See gewoon. Moab was deel van Kanaän - Exodus 15:15. Die vlaktes van Moab was naby Jérigo en die Jordaanrivier. God het opdrag gegee dat Israel nie Moab as ‘n vyand moes beskou nie.
“Toe het die Here vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as 'n besitting gegee het.”
DEUTERONÓMIUM 2:9 AFR53
Die Moabiete het kos aan Moses verkoop tydens die Israeliete se trek - Deuteronómium 2:28-29. Israel het onder leiding van Moses die land van die Amoriete ingeneem - Númeri 21:26-31. Toe Balak die koning van Moab dit hoor het hy Bíleam gestuur om die Israeliete te vervloek. God het ‘n donkie en ‘n engel gestuur om Bíleam te stop - Númeri 22. Later het Israel weer gesondig deur met Moabiete te trou en afgode te dien. Gevolglik het 24 000 Israeliete gesterf weens ‘n plaag - Númeri 25. Moses het later op die berg Nebo in Moab gesterf - Deuteronómium 32:49-50. Deur Balak en Bíleam het Moab hul goddelike beskerming verloor.
Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die Here kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die Here kom nie; omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bíleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotámië, teen jou gehuur het om jou te vloek. Maar die Here jou God wou nie na Bíleam luister nie; maar die Here jou God het vir jou die vloek in 'n seën verander, omdat die Here jou God jou liefgehad het. Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie.”
DEUTERONÓMIUM 23:3-6 AFR53 (lees ook Nehemía 13:1)
Toe Israel gesondig het, het God vir Eglon die koning van Moab toegelaat om Israel te verslaan. Na 18 jaar het God vir Ehud gestuur om Israel uit die hand van Moab te red - Rigters 3:12-30. Rut was die bekendste Moabiet in die Bybel. Weens ‘n hongersnood het Naomi, Eliméleg en hulle 2 seuns na Moab getrek. Die seuns het met 2 vroue (Rut en Orpa) uit Moab getrou. Na Eliméleg en sy 2 seuns sterf het Naomi teruggekeer na Israel. Rut het haar vergesel en is later met Boas getroud. Rut, Boas en hulle seun Obed is in Jesus se geslagregister- Matthéüs 1:5, Lukas 3:32. Rut se vriendskap met Naomi en haar huwelik met Boas het haar gered en sy kon God volg asof sy ‘n Jood was en nie ‘n Moabiet nie.
Rut : Strong’s H7327, Strong’s G4503 - vriendskap, verfris (soos met water), kameraad, metgesel.
Boas: Strong’s H1162 - in hom is krag.
Boas was ‘n skaduwee van Jesus (krag) en Rut (vriendskap) ‘n skaduwee van die bruid. As die bruid bereid is om aan die voete van haar man of redder Jesus te bly sal Jesus hulle red ongeag ras of geslag.
Koning Saul het o.a. oorlog gevoer teen Moab - 1 Samuel 14:47.
Die koning van Moab was goedgesind teenoor Dawid - 1 Samuel 22:3-4.
Later het Dawid die Moabiete verslaan en die oorlewendes moes aan Dawid belasting betaal - 2 Samuel 8:2, 1 Kronieke 7:2,11.
Koning Salomo het Kamos, ‘n Moabitiese afgod, aanbid - 1 Konings 11:7.
“EN Moab het na die dood van Agab van Israel afvallig geword.”
II KONINGS 1:1 AFR53
Juda, Israel en Edom het saam geveg en Moab verslaan omdat God met Juda was - 2 Konings 3.
Juda sa nakomelinge het oor Moab geheers - 1 Kronieke 4:22.
Na Elísa se dood het Moabitiese bendes Israel binne gegaan - 2 Konings 13:20.
Moab het God se beskerming verloor en Jósafat het die grond van Moab in besit geneem - 2 Kronieke 20.
Nehemía en Esra moes die Jode berispe omdat hulle o.a. met Moabitiese vroue getrou het - Nehemía 13:23-27, Esra 9:1-2.
“Want omdat jy vertrou het op jou handelinge en op jou voorrade, sal jý ook ingeneem word; en Kamos (hulle afgod) sal uittrek in ballingskap, sy priesters en sy vorste almal saam.”
JEREMIA 48:7 AFR53
“En Moab sal verdelg word, dat hy geen volk meer is nie, omdat hy hom groot gehou het teen die Here.”
JEREMIA 48:42 AFR53
Die Moabiete was nie goedgesind teenoor Israel nie en God wou hulle nie in Sy teenwoordigheid hê nie. Hulle het op afgode vertrou en het nie hulle vertroue in God geplaas nie. Ons lees van die ondergang van die Moabiete in Jesaja 15 -16, Jeremia 48, Amos 2:1-3, Die mense van Moab was trots en vol hoogmoed. Hulle gebede is nie beantwoord nie en baie van hulle is uitgeroei tot slegs ‘n klein oorblyfsel oor was. Moab het gehuil oor hul druiwekoeke (rosyntjiekoeke). Hulle wingerstokke is verwoes en die vreugdeklanke wanneer druiwe getrap is vir wyn, het stil geword. Tussen al die negatiewe dinge oor Moab profeteer Jesaja dat Jesus sal kom.
“En opgerig is deur goedgunstigheid 'n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, 'n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.”
JESAJA 16:5 AFR53
“Ek sal ook in Moab strafgerigte voltrek; en hulle sal weet dat Ek die Here is.”
ESÉGIËL 25:11 AFR53
“Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Moab verander, spreek die Here. Tot sover die oordeel van Moab.”
JEREMIA 48:47 AFR53
Nebukadnésar het Moab verslaan en die mense kon eers weer terugkeer na hulle land tydens koning Kores (Cyrus) se regering. Jeremia verwys na “die einde van die dae” (lees ook Daniël 11:41). Jesus het ook restorasie gebring vir die inwoners van Moab. Die fisiese wingerde van Moab is vernietig, maar met die nuwe verbond kan Moab deel van die geestelike wingerd word en die nuwe wyn van die Heilige Gees geniet. Vandag bestaan Moab nie meer nie en die area staan as Jordanië bekend. Ek glo dat hierdie belofte geld vir die inwoners van Jordanië. Daar is slegs 7% Christene in Jordanië. Onder die nuwe verbond kan elke stam, nasie en taal gered word.
“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.”
JOHANNES 15:4-8 AFR53