NABOOTSING
- 7 minutes read - 1284 wordsGod het eers Eden en daarna Jerusalem gemaak as ‘n prentjie van die Hemel. Water het onder uit die tempel gevloei net soos by God se troon. Vandag is ons die tempel en “strome van lewende water moet uit ons vloei” (1 Korinthiërs 3:16, Johannes 4:14, 7:38-39). God se troon rus op saffiersteen wat deur die wesens met die 4 koppe vervoer word (Eségiël 1:26, 10:2; Exodus 24:10). Selfs die verbondsark (God se woonplek in die Ou Testament) is ook vervoer met pale en moes nooit op ‘n wa gelaai word nie. Satan was eens ‘n engel in die Hemel en probeer alles wat God doen naboots. Satan het vir hom ‘n vals tydelike tuiste geskep in die tweede hemel, terwyl God ‘n wonderlike hemelse tuiste in die derde Hemel het (2 Korinthiërs 12:2). God het engele wat Hom aanbid en daarom wou satan ook aanbid word. God het satan geskep as ‘n perfekte engel in die Hemel, maar hoogmoed het veroorsaak dat hy tot ‘n val kom (Eségiël 28:12-19). Satan het demone wat hy gebruik om mense te manipuleer en beheer. God het engele wat ons help (Hebreërs 1:14, Psalms 91:11). Die Heilige Gees lei ons, maar ons kan self kies of ons Sy leiding wil volg. God is liefdevol en het nie nodig om ons te beheer nie. Die Heilige Gees bring vir jou goeie idees en wil saam met jou werk om God se wil te laat gebeur (2 Petrus 1:19-21). Satan bring slegte idees en gedagtes na mense en wil mense heeltemal beheer.
Jesus is die Lig van die wêreld (Johannes 8:12) en die môrester (Openbaring 2:28, 22:16) en dit is wat satan wil wees. Satan kom as “‘n engel van die lig” en die “môrester” (Jesaja 14:9-16) om mense te mislei. Ons benodig die Heilige Gees om nie mislei te word nie deur ‘n vals Messias nie (2 Korinthiërs 11:3,4,11).
Wanneer God sy Gees wil uitgiet op aarde (Joël 2 en Handelinge 2) in die vorm van die Heilige Gees wind en vuur dan wil satan ook wind en vuur bring, maar sy motief is om te steel, roof en vernietig (Johannes 10:10). Satan wil almal en alles ruineer en saam met hom hel toe neem.
God wil ‘n vloedgolf van sy liefde, teenwoordigheid en heerlikheid op die aarde neerstort. Satan wil tsunami’s, orkane, brande, skadelike winde, aardskuddings en storms bring. God wil ons wakker skud om honger te wees vir meer van Hom. Satan wil ons skud om ons lewe te ruineer of ons besittings te verloor. God wil ‘n vuur in jou hart aansteek sodat jy sondevry is en ‘n passie vir God se dinge sal hê.
God wil hê ons moet kinders as ‘n geskenk(seëning) van Hom ervaar. Ons moet ons kinders grootmaak om God te ken (Spreuke 22:6). Satan wil babas aborteer (vir Baäl offer) en die wat bly lewe se lewens en toekoms ruïneer. God het wonderlike planne en goeie gedagtes oor jou (Jeremia 29:11). Jesus het baie wonderwerke gedoen en daarom wil satan ook wonderwerke doen. Die Farao se raadgewers kon ook sekere wondertekens doen en daarom was die Farao nie beïndruk met wat Moses hom wou wys nie (Exodus 7:11-13). Eendag sal die dier ook vuur afroep aarde toe en wondertekens doen (Openbaring 13:13,14) om die mense te verlei. Christene weet gewoonlik om weg te bly van toordokters en waarseêrs en daarom bring satan “genesing en wonderwerke” deur vals godsdienste. Of satan bring verdeeldheid wanneer mense wel deur die Heilige Gees gebruik word. Satan werk deur dooie godsdiens, soos met die Fariseërs in die Bybel (Galásiërs 1:8:8-9, 2 Timótheüs 3:5, 1 Thessalonicense 1:5). Die Heilige Gees is jou enigste betroubare bron. Die wêreld, die nuus, die internet, die wetenskap en die “fact checkers’ sal jou kop vul met vals inligting.
Kom ons kyk wat God alles aan ons gegee het en jy kan self dink hoe satan dit probeer namaak en verdraai.
• God se motief is altyd liefde.
• Adam en Eva moes regeer oor die diere (slange ook) in die tuin.
• God het die reënboog as ‘n teken van Sy verbond (beloftes) aan die mens gegee.
• God het die son, maan en sterre as tekens aan die mens gegee.
• Hy het ons as man en vrou geskape; elkeen uniek met ‘n spesifieke doel.
• Vroue en mans werk saam en die een is nie meer belangrik as die ander nie.
• Jesus is die leier (Hy beheer of manipuleer niemand) van God se volgelinge soos die man leier van ‘n Christen familie is.
• Die huwelik was heilig en dit moes ons verhouding met Jesus ons Bruidegom uitbeeld.
• Daar is net een manier na die Vader, deur Jesus.
• Alle krag en outoriteit is aan ons gegee.
• Babas en kinders is gegee as ‘n geskenk aan ons.
• Kinders moet gedissiplineer word en geleer word om God te volg. (soos God ons dissiplineer)
• Weggevoer in die Gees teenoor “astral projection”.
• Wonderwerke teenoor toorkuns.
• God se wil teenoor menseregte.
• Die 4 elemente van die “New Age” en sataniste is nog ‘n poging om God se dinge te steel. Vuur, water, land en lug is alles deur God gemaak.
• Die nommer 13 kan met die joodse gematria vertaal word na liefde. Elke Hebreeuse letter het ‘n numeriese waarde en wanneer jy die waardes van die woord liefde optel kry jy 13. Daarom wil satan hê ons moet 13 as ‘n ongelukkige nommer beskou. Ons weet daar is geen groter liefde as Jesus wat Sy lewe vir ons afgelê het nie. Lees ook 1 Korinthiërs 13.
• Op die sesde dag het God die mens geskape en gesê dat dit baie goed is. Satan wil die 6 steel as sy nommer en maak menseregte meer belangrik as God.
• God werk deur ons (Efésiërs 3:20); satan werk deur almal wat hom toelaat in hul lewens (Efésiërs 2:2).
• God gebruik edelgesteentes as versiering (Eségiël 28:13, Exodus 28:17-21, Openbaring 4:3, 21:19-21) en daarom misbruik satan kristalle vir allerande rituele.
• ‘n Intieme verhouding met God waar Christene krag en outoriteit het. Teenoor dooie godsdiens, waar mense net weet van God en God smeek vir seëninge.
“Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het?”
JESAJA 14:16
Adam en Eva is in Génesis mislei en totdat satan val sal hy mense mislei.
“Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.”
OPENBARING 17:13-14 AFR53
Jesus se opstanding het alles verander. Jesus het die ewige dood oorwin en die ou nabootser het reeds verloor. Satan wil jou laat dink dat jy eers in die Hemel ‘n goeie lewe kan hê. Of dat jy soveel sonde het dat God jou nooit sal vergewe nie. Jesus wil vir jou vergewe, vrede gee en lewe in oorvloed hier op aarde gee. En Hy wil JOU gebruik om die wêreld om jou te verander. Maak seker jy is gevul met die Heilige Gees en maak seker jy gebruik jou outoriteit om te regeer oor die aarde. Jesus het mense genees, duiwels uitgedryf, storms stil gemaak, op water geloop, satan weerstaan, volgelinge vir God gewerf, liefde en ondersteuning gegee, Sy lewe prysgegee, ‘n intieme verhouding met God gehad en in +- 33 jaar Sy volle “Boek van die Lewe” uitgeleef. Kom ons wees nabootsers van Jesus.