Nehemía
- 2 minutes read - 407 wordsVan ongeveer 605 vC word mense weggevoer na Babel en 586 vC word Jerusalem oorgeneem en word die eerste tempel vernietig. Die ballingskap duur 70 jaar totdat koning Kores (Cyrus) toestemming gee dat die Jode kan terugkeer in 538 vC. In 520 vC word die fondamente gegrawe vir die tweede tempel. In ongeveer 445-443 vC het Nehemía die muur laat herbou.
Esra was die priester en skrifgeleerde, in daardie tyd. Nehemía het gehoor hoe sleg dit gaan in Jerusalem. Die muur om Jerusalem was stukkend en dele was verbrand. Hy het namens sy hele volk vergifnis vir hulle sondes gevra (Neh 1:6 ). Nehemía was die skinker van Koning Artasásta (Neh 1:11) en het vir die koning toestemming gevra om na Jerusalem te gaan.
“Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid”
NEHEMÍA 2:4 AFR53
Nehemía het die hele tyd God geraadpleeg en nie dinge uit sy eie gedoen nie. God se guns het veroorsaak dat die koning vir Nehemía toestemming gegee het om te reis en ook om hout te verkry vir die herstel van Jerusalem se mure (Neh 2:8 ). Omstandighede was sleg en negatief vir Nehemía, maar hy het net sy missie voltooi. Hulle moes met een hand werk en met die ander hand ’n spies vashou, vir beskerming (Neh 4:17).
“Op die plek waar julle die geluid van die basuin hoor, daar moet julle by ons bymekaarkom; onse God sal vir ons stry.”
NEHEMÍA 4:20 AFR53
Nehemía se identiteit was in God. Hy kon sien dat God hom geskep het vir ’n spesifieke doel op aarde.
“Toe stuur ek boodskappers na hulle om te sê: Ek doen ’n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie. Waarom moet die werk ophou sodra ek dit verlaat om na julle af te kom?”
NEHEMÍA 6:3 AFR53
Selfs toe vals gerugte oor hom versprei is het hy dit geïgnoreer en aangegaan met sy missie. Dit het hulle slegs 52 dae geneem om die muur te voltooi (Neh 6:15 ). Nehemía was 12 jaar lank goewerneur oor Juda en het die mense regverdig behandel (Neh 5:14-29). Wanneer jy God se instruksies volg word take makliker en kan jy dit vinniger voltooi. Soos Nehemía gaan ek vandag doen dit waarvoor God my geroep het. Niks kon Nehemía stop nie. Niks gaan my vandag stop om my “groot werk” vir God te doen nie. Wat van jou?