‘N FAMILIEBESIGHEID
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 337 wordsOns almal ken iemand wat ‘n familiebesigheid het. Daar is werk vir die eienaar se kinders as hulle dit sou wou hê. Soms sal daar ‘n kind wees wat sy eie ding wil doen en nie belangstel om deel van die besigheid te wees nie. Op ‘n stadium neem die kinders en later die kleinkinders die besigheid oor.
Daar is ook ‘n geestelike familiebesigheid. Die Vader het Adam gestuur, maar hy was ongehoorsaam. Baie later het die Vader Sy Seun gestuur sodat ons kinders van God kon word.
“die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.”
LUKAS 3:38 AFR53
“Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;”
JOHANNES 1:12 AFR53
“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;”
ROMEINE 8:29 AFR53
Jesus het Sy volgelinge geleer en voorberei om die familiebesigheid oor te neem. Toe hulle die Heilige Gees ontvang het hulle die Woord versprei en tekens en wonders gedoen. Wanneer ons Jesus aanvaar word ons deel van die familiebesigheid en moet ons Jesus se werk voortsit.
“En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”
MARKUS 16:15-18 AFR53
Dit is die Vader se wil dat ons betrokke is in Sy familiebesigheid, maar dit bly altyd jou keuse of jy deel wil wees daarvan.