‘n Goeie Krygsman
- 3 minutes read - 429 words2 Timótheüs 2-3
Hierdie 2 hoofstukke in die Bybel leer vir ons hoe om ‘n goeie krygsman (of -vrou) vir Jesus te wees. Paulus het dit uit die tronk aan sy geestelike seun, Timótheüs, geskryf. Om ‘n krygsman vir Jesus te wees sal veroorsaak dat jy deur verdrukking, lyding en vervolging gaan.
“Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”
II TIMÓTHEÜS 2:11-13 AFR53
Krygsmanne mors nie hulle tyd met onsinnige en onheilige praatjies nie, want dit gee aanleiding tot goddeloosheid. Hulle raak nie betrokke in argumente met moedswillige en rebelse mense nie. Hulle word nie deur wêreldse begeertes verlei nie. Geregtigheid, geloof, liefde, vrede en ‘n rein hart is alles eienskappe van ‘n goeie krygsman.
Dan waarsku Paulus ons dat daar moeiliker tye sal kom. Mense sal lief wees vir hulleself, geldgierig, trots, ongehoorsaam, bandeloos en wreed wees. Ons sien hierdie dinge daagliks raak. Maar, ons moet veral versigtig wees vir diegene wat hulle voordoen as Christene, maar glad nie leef volgens die Bybel se voorskrifte nie.
“mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
II TIMÓTHEÜS 3:5 AFR53
Die Bybel en die Heilige Gees is daar om elke krygsman op die regte pad te hou.
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
II TIMÓTHEÜS 3:16-17 AFR53
Nadat ek hierdie 2 hoofstukke gelees het, het ek ‘n visioen gehad van die hoofkarakter van “Where is Wally?” Wally is ‘n karakter met ‘n mus en dra rooi - en wit klere. ‘n Hoed dui op identiteit en ons identiteit moet in Christus wees. Die wit dui op reinheid en die rooi op Jesus se bloed. Wanneer jy Wally probeer vind sien jy baie ander rooi en wit prentjies raak, wat jou probeer mislei. Wees dus versigtig vir mense wat jou wil mislei. Elke krygsman moet streef om sondeloos te lewe en bedek te wees met Jesus se bloed. Die naam “Wally” is afgelei van die naam “Walter” wat “kragtige vegter” beteken en “Waldo” wat “kragtige regeerder” beteken. Die Vader vra vandag: “Waar is Sy kragtige vegters of krygsmanne?” Jy is geroep om ‘n krygsman vir Jesus te wees.