‘N KLEIN BEGIN
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 549 words“met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”
HANDELINGE 10:38 AFR53
Jesus, konings en priesters het salwing nodig gehad om hul taak te verrig. Ons het ook die salwing van Heilige Gees nodig om ons roeping te vervul hier op aarde. Miskien wonder jy hoe gaan jy ooit doen wat God jou geroep het om te doen. Ek wil Sagaría se visioen met jou deel. Juda het begin terugkeer na Jerusalem na 70 jaar van ballingskap in Babel. Die tempel en Jerusalem was verwoes. Serubbábel se roeping was om die tempel te bou. Serubbábel het die fondamente vir die tweede tempel gegrawe, maar die bouery is toe stopgesit. Die vyand het geweldige weerstand gebied en die taak het soos ‘n berg voor Serubbábel gelê. Krag en geweld kon nie die probleem oplos nie; die salwing van die Heilige Gees kon. Die olyfboom is simbolies van God se teenwoordigheid en die salwingsolie. God sien jou situasie raak en dit mag dalk lyk na ‘n klein begin, maar Sy salwing sal al die probleme oplos.
“En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan. Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel? Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.”
SAGARÍA 4:2-14 AFR53