Nommers (414)
- 4 minutes read - 724 wordsEk sien gedurig die nommers 414. Dit hou nou al vir weke aan. Ek het begin deur te kyk na die 4 wat die nommer van skepping is, en 1 wat eenheid beteken. Dan sal ek kyk na Bybelverse wat 414 in het.
EEN 1 - Eenheid
- Ons dien 1 God, net 1 ware God. Deut 6:4, Jes 44:6
- God, die Vader, Seun en Heilige Gees is een.
- ‘n Man en vrou word een wanneer hul trou.
- Jesus word een met Sy bruid.
- In Handelinge 2 was almal “eendragtig saam” toe die Heilige Gees uitgestort is.
“en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.”
EFÉSIËRS 4:3-6 AFR53
VIER 4 - Skepping
- 4 windrigtings - N,S,W,O
- 4 lewende wesens in die troonkamer Open 4:8
- Jakob het 4 vroue gehad, wat die hele nasie Israel sou vorm. Gen 29-30
- Daar is 4 seisoene in elke jaar.
“Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die Here Sísera in jou hand gee. Trek die Here nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan.”
RIGTERS 4:14 AFR53
“Want as jy nou werklik swyg, sal daar van ’n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?”
ESTER 4:14 AFR53
Ek glo God wil weer fokus daarop plaas dat mans en vroue moet saamwerk. Vir baie jare is vroue se rol beperk tot kinders, kos, huis, koffiedrink, hare en naels en soms haar beroep. Haar skeppingsdoel is grotendeels geignoreer. Dis tyd dat vroue opstaan en alles wees wat God hul geskep het om te wees. Die wêreld wil ons in kompetisie met mans plaas, maar God het ons gemaak om saam met mans te werk. Debóra het saam met Barak gewerk om die vyand te oorwin. Debóra het wysheid by God gekry om instruksies aan die weermagleier te gee. Dit was in die Ou Testament aanvaarbaar, dit is in die Nuwe Testament aanvaarbaar en dis vandag aanvaarbaar dat vroue van God hoor en help om die oorlog teen satan te wen. En netso by the way, Jael, ‘n vrou, het Sisera met ‘n tentpen vermoor en nie Barak nie.
Esther het in samewerking met haar oom Mórdegai en natuurlik baie hulp van God die hele Israel gered. Die engelse Bybel sê so mooi “you were born for such a time as this.” So as jy nog wonder, jy is nie ‘n ongeluk nie. Mans, vroue, kinders, oumas en oupas dis nou jou tyd, jy lewe, so jy kan ‘n verskil maak. Kom ons werk saam om ons wêreld te verander en seker te maak ons vriende en familie gaan nie verlore nie.
Mans en vroue moes dus met God (1) saamwerk om ‘n beter wêreld vir ons almal te skep (4). Joël het profeteer dat ons almal vol van God kan wees.
“En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.”
JOËL 2:28-29 AFR53
Lukas die skrywer van Handelinge, het Joël aangehaal.
“Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.”
HANDELINGE 2:16-18 AFR53
Ek glo ons begin nou waarlik sien hoe mense van alle ouderdomme, etniese groepe en alle samelewens, God se Gees ontvang. Wanneer ons vol van die Heilige Gees is sal ons ‘n gemeenskaplike doel hê om die wêreld om ons beter te maak.