OBÁDJA SE BOODSKAP VIR ONS
Janine Forsyth
- 12 minutes read - 2427 words“Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.”
OBÁDJA 1:15 AFR53
Daar is 13 mense in die Bybel met die naam Obádja. In die Bybelboek Obádja rig die dienskneg van God ‘n waarskuwing aan Edom. Al wat ons weet van Obádja is dat hy ‘n profeet was wat God se planne van weerwraak teen Edom bekend gemaak het. Obádja bestaan uit net 1 hoofstuk met 21 verse.
Obádja: Strong’s H5662 - dienskneg van God.
Edom: Strong’s H123 - rooi, Abraham se kleinseun en Isak se seun - Esau - het sy eersgeboortereg vir ‘n bak rooi sop verkoop. Edom was suid van die Dooie See geleë, waarskynlik waar Jordanië vandag is.
Edomiete: Esau se nageslag
Esau het met 3 vroue uit Kanaän getrou. Esau het gewoon in die berge van Seïr - Edom. Lank voordat Israel ‘n koning gehad het, was Edom reeds deur konings regeer.
Esau: harig
Seïr: ruig of harig
Teman: Esau se kleinseun - Génesis 36:10
Sela: Rots, die hoofstad van Edom, wat moontlik later Petra genoem word.
Vroeër was daar nog hoop vir die Edomiete, want Esau was die broer van Jakob. God is goed en gee vir almal kans om Hom te leer ken. Ongelukkig het die Edomiete nie tot inkeer gekom nie. Toe Moses toestemming vra om deur die land Edom te trek het die koning geweier en gedreig om hulle met die swaard aan te val - Númeri 20:14-21. Die rigters en Saul het teen Edom geveg, maar Dawid het Edom ingeneem. Edom het later weer probleme veroorsaak. Obádja het profeteer dat daar geen oorblyfsel van Esau sal wees nie. Met die Babiloniese ballingskap het Edom gehelp om die Jode wat agtergebly het dood te maak. God sal wraak neem teen Edom omdat hulle Jerusalem en die Jode geheel en al wou vernietig. By die riviere van Babel het die inwoners van Israel gesit en huil terwyl hulle gedink het aan Jerusalem. Maleági het dit duidelik gemaak dat God lief was vir Jakob, maar sy broer Esau gehaat het. Eségiël, Jesaja, Jeremia, Amos, Joël en Daniël het vir Edom gewaarsku. Selfs in die Nuwe Testament waarsku Paulus vir ons om nie so onheilig soos Esau te wees nie. Obádja deel nie net ‘n bietjie geskiedenis met ons nie. Dit is ‘n duidelike waarskuwing vir elkeen wat Israel en die Jode haat. God self gaan aan die einde met Edom afreken. Christene moet bid vir vrede in Jerusalem en dat die Jode vir Jesus sal ontmoet.
“Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.”
GÉNESIS 25:30 AFR53
“Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het, en hy trek na 'n land, wég van sy broer Jakob af; want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie. En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. En Timna was 'n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau — sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof Sefo, die stamhoof Kenas, die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Ámalek. Dit is die stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada. En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom.”
GÉNESIS 36:6-19 AFR53
“En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar 'n koning geregeer het oor die kinders van Israel:”
GÉNESIS 36:31 AFR53
“Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die stamhoof Jetet, die stamhoof Oholibáma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon, die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar, die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom, volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die stamvader van die Edomiete.”
GÉNESIS 36:40-43 AFR53
“Die Edomiet moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die Here kom.”
DEUTERONÓMIUM 23:7-8 AFR53
“En Dawid het naam gemaak toe hy, by sy terugkoms van die neerlaag van die Arameërs, in die Soutdal agttienduisend Edomiete verslaan het. En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die Here het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.”
II SAMUEL 8:13-14 AFR53
“Hý het die Edomiete in die Soutdal verslaan, tienduisend man, en Sela in die oorlog verower en dit Jókteël genoem, tot vandag toe.”
II KONINGS 14:7 AFR53
“Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom. Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie. Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal 'n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem. Dan sal die huis van Jakob 'n vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau 'n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die Here het dit gespreek. Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem. Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem. Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die Here toebehoort.”
OBÁDJA 1:15-21 AFR53
“Here, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!”
PSALMS 137:7 AFR53
“Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”
HEBREËRS 12:16-17 AFR53
“GODSPRAAK. Die woord van die Here aan Israel deur die diens van Maleági. Ek het julle liefgehad, sê die Here. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die Here. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou — dan sê die Here van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die Here vertoornd is tot in ewigheid!”
MALEÁGI 1:1-4 AFR53
“SO sê die Here Here: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het — daarom, so sê die Here Here: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit 'n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val. En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here Here.”
ESÉGIËL 25:12-14 AFR53
“Daar is Edom, sy konings en al sy vorste, wat ondanks hulle dapperheid neergelê is by die wat verslaan is deur die swaard; hulle lê by die onbesnedenes en by die wat in die kuil neergedaal het.”
ESÉGIËL 32:29 AFR53
“Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word. Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die Here het 'n slagoffer in Bosra en 'n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet. Want die Here hou 'n dag van wraak, 'n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.”
JESAJA 34:5-8 AFR53
“Soos jy vrolik was oor die erfdeel van die huis van Israel, omdat dit verwoes is, so sal Ek met jou maak: jy sal 'n wildernis word, o berg Seïr en die hele Edom, almal saam. En hulle sal weet dat Ek die Here is.”
ESÉGIËL 35:15 AFR53
“En ook al die Jode wat in Moab en onder die kinders van Ammon en in Edom en wat in al die lande was, het gehoor dat die koning van Babel vir Juda 'n oorblyfsel nagelaat het; en dat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het;”
JEREMIA 40:11 AFR53
“OOR Edom. So sê die Here van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput? Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen. As daar druiwesnyers na jou kom, sal hulle geen na-oes laat oorbly nie; of diewe in die nag — hulle sal verniel totdat hulle genoeg het. Want Ek het Esau ontbloot, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat hy hom nie kan wegsteek nie; sy geslag is verwoes, ook sy broers en sy bure, en hy is daar nie. Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe, jy wat die top van die heuwel in besit hou! Al maak jy jou nes so hoog soos die arend — daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die Here. So sal Edom dan 'n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die Here, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie. Daarom, hoor die raadsbesluit van die Here wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees. Kyk, een sal opstyg en vlieg soos 'n arend en sy vlerke oor Bosra uitsprei; en die hart van die helde van Edom sal in dié dag wees soos die hart van 'n vrou wat in nood is.”
JEREMIA 49:7-10, 16-18, 20, 22 AFR53
“Sjin. Verbly en verheug jou, dogter van Edom, wat in die land Us woon; ook na jou sal die beker kom, jy sal dronk word en jouself ontbloot. Tau. Jou straf het sy einde bereik, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat wegvoer nie. Hy besoek jou ongeregtigheid, dogter van Edom, Hy openbaar jou sondes.”
KLAAGLIEDERE 4:21-22 AFR53
“In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen. Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”
AMOS 9:11-13 AFR53
“Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed in hul land vergiet het.”
JOËL 3:19 AFR53
“Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”
DANIËL 11:41 AFR53