Ons is nou een in Christus
- 6 minutes read - 1190 wordsIn Deuteronómium 23 lees ons van sekere groepe mense wat nie in God se teenwoordigheid toegelaat is nie. Hierdie nasies was vyande van God omdat hulle afgode aanbid het en die Israeliete skade berokken het.
Ander nasies kon in die Ou Testament by die Israeliete aansluit en moes dan God se wet onderhou.
“en in al die provinsies en in al die stede waar die bevel van die koning en sy wet ook al aangekom het, was daar vrolikheid en vreugde by die Jode, maaltyd en feesdag; en baie uit die volke van die land het Jode geword, want die skrik vir die Jode het op hulle geval.”
ESTER 8:17 AFR53
Later in Jesaja 56 sien ons dat hierdie selfde mense wat in Deuteronómium 23 verwerp word geseënd sal wees wanneer hulle die Sabbat onderhou. Die Sabbat is ‘n skaduwee van die 1000 jaar Messiaanse era wanneer Jesus by ons sal wees en regeer as Koning. Alles het verander met Jesus se koms.
“SO sê die Here: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil (verlossing of redding) is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.”
JESAJA 56:1 AFR53
“En die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke. Die Here Here wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.”
JESAJA 56:6-8 AFR53
Nie net is heidin nasies in die Ou Testament verwerp deur God nie, maar ook die hele huis van Israel (10 van die 12 stamme) is versprei tussen die nasies weens hulle sonde. Met Jesus se koms het baie van die Jode Jesus verwerp en hulle het Hom ook laat kruisig. Heidinne het Jesus begin volg en later het Paulus die Woord verder onder hulle versprei.
God se hart was nog altyd om een groep mense te hê. Jesus, gebore uit die stam van Dawid, sal terugkom vir een bruid. Ons Bruidegom sal ook ons Koning wees.
“En jy, mensekind, neem vir jou 'n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem 'n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand. sê dan vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand. So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë; en sê vir hulle: So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my 'n volk wees, en Ek vir hulle 'n God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal 'n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees en hulle vir my 'n volk wees. En die nasies sal weet dat Ek die Here is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.”
ESÉGIËL 37:16-17, 19-28 AFR53
Ons is nou almal een in Christus.
“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”
GALÁSIËRS 3:28 AFR53
“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.”
EFÉSIËRS 2:13-22 AFR53
“dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie waarvan ek 'n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag. Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,”
EFÉSIËRS 3:6-9 AFR53