Ons moet ons gevoelens heilig (“sanctify”)
- 3 minutes read - 515 wordsDit het my baie lank geneem om te verstaan hoe om my gevoelens te heilig. Ons kan dit wat ons voel nie ignoreer nie, want dan eindig ons met ‘n verharde hart. Of jy stop die werking van die Heilige Gees.
“En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
JOHANNES 10:4-5 AFR53
Jesus sê dat ons moet wegvlug van die vyand af, want ons moet nie eers sy stem ken nie. Ons weet ook dat die skape (Christene) die Skaapwagter se stem ken. Die probleem is dat die stem van die vyand en die stem van die Heilige Gees dieselfde klink in my kop. Ek moet dus leer om te onderskei tussen die 2 stemme. Ek moes leer om te identifiseer wat ek voel. Is dit wat ek voel die waarheid en van God af? Of is dit wat ek voel van die vyand af? Wanneer ek moeg, hartseer, jaloers, ongemaklik, verworpe, gelukkig, opgewonde, bekommerd of selfs lui voel moet ek weet waarom ek so voel.
• Is dit die vyand wat my laat dink dit gaan ‘n moeilike dag wees?
• Of is dit die Heilige Gees wat ‘n waarskuwing gee?
• Het ek dalk iets in die geestelike atmosfeer opgetel?
• Is dit tyd vir geestelike oorlogvoering in my area?
• Is dit ‘n vorige ondervinding of kennis (miskien iets in die nuus) wat my negatief beïnvloed?
• Voel ek skuldig oor iets waarvoor ek reeds vergifnis gevra het?
• Sit stil en vra vir Jesus waarom het jy die gevoel?
Die vyand het Adam en Eva oortuig dat hulle iets mis in ‘n perfekte wêreld.
Die vyand het Dawid onseker laat voel en daarom het hy die mense laat tel.
Die vyand het Petrus laat dink dat hy nodig het om te keer dat Jesus gekruisig moes word.
Die vyand wou selfs Jesus verlei in die woestyn.
Die vyand gee jou gedagtes en gevoelens wat nie van God kom nie.
“Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;”
III JOHANNES 1:2 AFR53
“Want soos hy in sy siel bereken, so is hy;
SPREUKE 23:7a AFR53
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:2 AFR53
“Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”
II TIMÓTHEÜS 1:7 AFR53
Jy moet dus die bron identifiseer van jou gevoelens en gedagtes en dit dan filter. Selfbeheersing is ‘n vrug van die Gees. Jy het selfbeheersing en jy kan verkeerde gevoelens wegjaag. Jou siel sal floreer soos jy leer om jou gevoelens en gedagtes heilig te hou.
My gevoelens en gedagtes is nie die vyand se asblik nie.