ONS REDDER
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 480 wordsIn die Ou Testament lees ons van baie verskillende redders. Noag, Abraham, Jakob, Josef, Debóra, Ester, Moses, Joshua, Dawid, Jona, Gideon en Simson was almal wonderlike redders. Elkeen van hierdie redders was ‘n skaduwee van Jesus wat sou kom. Moses is seker die bekendste redder van die Israeliete. Daar was baie ooreenkomste tussen hom en Jesus. Satan en die engel Mígael het ‘n argument gehad oor Moses se liggaam. Ek glo satan het gedink dat Moses nie die Beloofde Land kon ingaan nie en daarom kon hy ook nie die ewige lewe beërwe nie. Moses het net soos die ander redders foute gemaak, maar God het hulle vergewe. Jesus was die enigste sondelose Redder. Satan het waarskynlik vir ‘n kort rukkie gedink dat hy Jesus het, maar op die derde het Jesus die graf oorwin. Vandag is daar ook mense wat wonderlike goed vir Jesus doen; ons kan by hulle leer, maar ons volg net ons enigste Redder, Koning Jesus. ‘n Eienskap van ‘n goeie leier is dat hy al die aandag op Jesus plaas en nie op homself nie.
“Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”
JUDAS 1:9 AFR53
“Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.”
JOHANNES 14:30 AFR53
“Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”
OPENBARING 5:5-10 AFR53
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
JOHANNES 15:5 AFR53