Oop hemele/ “portals”/ oop vensters van die Hemel
- 6 minutes read - 1240 wordsDaar was die laaste ruk soveel mense wat praat oor sataniste wat in rituele vensters vir bose geeste probeer oopmaak. Baie Christene glo nie dat daar “portals” is nie. Baie mense wat ‘n naby-dood ervaring gehad het sal vertel hulle het bo-natuurlik deur die dak van ‘n vertrek beweeg, terwyl hullle liggame agtergebly het. Dan vertel hulle van ‘n tonnel/kolom, met ‘n lig aan die einde, waarin hulle opgesuig word. Ek glo dit is ‘n hemelse venster (“portal”). Kom ons kyk wat sê die Bybel.
Met Jesus se doop het die Hemel oopgegaan en die Heilige Gees het in die vorm van ‘n duif oor Jesus gekom. (Kyk ook Markus 1:10 en Lukas 3:21).
“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom.”
MATTHÉÜS 3:16 AFR53
Jesus het vir Natánael gesê dat hulle die Hemel oop sal sien.
“En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”
JOHANNES 1:52 AFR53
Stéfanus het die Hemel sien oopgaan.
“En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.”
HANDELINGE 7:56 AFR53
Reën kom deur ‘n oop Hemel.
• In Noag se tyd -Génesis 7:11 en 8:2.
• God maak Sy skatkamer oop - Deuteronómium 28:12.
God kan die Hemel oopmaak om seëninge te bring.
“Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.”
MALEÁGI 3:10 AFR53
Jakob het in ‘n droom die oop Hemel gesien en engele het op en af geklim op ‘n leer. God het bo-aan die leer gestaan en seëninge oor Jakob uitgespreek (Génesis 28:12-13).
Nie net in drome nie, maar ook In visioene het die Hemel oopgegaan.
“IN die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.”
ESÉGIËL 1:1 AFR53
“hy (Petrus) sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.”
HANDELINGE 10:11 AFR53
Johannes het ‘n oop Hemel gesien.
“NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”
OPENBARING 4:1 AFR53
“TOE het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.”
OPENBARING 19:11 AFR53
Aan die einde sal die vensters van die Hemel weer oopgaan.
“En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.”
JESAJA 24:18 AFR53
Daar is verskeie gevalle wat die Bybel nie sê die Hemel het oopgegaan nie, maar dit is moontlik dat dit gebeur het. Natuurlik kan God dinge op enige manier laat gebeur, maar ek glo dis moontlik dat die Hemel oop was tydends die volgende gebeure.
• Moses, 3 ander mans en 70 van die oudtstes het God gesien, asook die vloer van saffier (Exodus 24:10).
• God wat aan Moses verskyn op die berg Sinai waar Moses dan die 10 gebooie ontvang het (Exodus 24:12-18).
• Paulus het geskryf oor ‘n man (moontlik hyself) wat die derde Hemel gesien het (2 Korinthiërs 12:2-4).
• Jesus en 3 dissipels was op die berg toe Jesus se voorkoms skielik verander. Moses en Elía het verskyn en God het hoorbaar uit die wolk gepraat om te sê dat Jesus Sy seun is (Matthéüs 17:1-12, Markus 9: 2-8 en Lukas 9:28-36).
• Jesaja het vir God gesien op Sy troon in die Hemel (Jesaja 6).
• Elía het in ‘n warrelwind opgegaan na die Hemel. Dis moontlik dat Elía deur ‘n opening in die Hemel beweeg het (2 Konings 2:11).
• Elía en die vals profete van Baäl het brandoffers gemaak om finaal te bepaal wie die ware God is. Die vals profete het die hele dag probeer, maar was onsuksesvol. Elía het gebid en vuur het uit die Hemel gekom. God het dus die Hemel oopgemaak en vuur gestuur (1 Konings 18).
Gaan die Hemel oop elke keer wanneer ‘n wonderwerk gebeur? Ek weet nie, maar dat God die Hemel oopmaak is baie duidelik. Ek wil glo dat ons onder ‘n oop Hemel leef sedert Jesus gesterf en opgestaan het.
In 2 Konings 7 lees ons van ‘n ongelowige adjudant wat nie wou glo wat die profeet Elísa profeteer het nie. Die adjudant het gesê dat selfs al open die Hemel sal die profesie nie waar word nie. Die volgende dag het dit waar geword en die adjudant het gesterf. God kan die Hemel open en ons moet net glo in God.
In Génesis 11:1-9 wou die mense ‘n toring tot by die Hemel bou. Dit was ‘n humanistiese poging om bekendheid te verwerf. God het dit gestop omdat hulle daarna enige iets sou kon doen. Ek het altyd gedink die mense sou nie n toring tot in die Hemel kon bou nie. Hulle sou misluk, so waarom was dit so groot ding dat God dit so drasties stop gesit het. Die plek is toe Babel genoem. Babel/ Babillon is “Bäbel” (H894) in die Strong’s Concordance wat “chaos”of “hek van god/gode” beteken. “Hek van god/gode” impliseer daar is toegang tot iets. Ek glo dit was ‘n poging om die vensters van die Hemel oop te maak vir demoniese/ sataniese aktiwiteite. God het dit verhoed deur hulle baie verskillende tale te laat praat en hulle reg oor die Aarde te versprei.
Ek het in 2020 wakker geskrik en besef sataniese rituele gebeur steeds. Ek het gehoor van ‘n man wat beleggings gedoen het vir baie ryk mense. Hyself het oornag baie ryk geword. Hy het weggestap van sy werk toe die groep ‘n mens aan satan wou offer. Baie jare gelede is daar ‘n storie versprei dat vermaaklikheids sterre vir satan moet aanbid alvorens hulle regtig suksesvol word. Dan weer het ek gehoor dat sangers sataniese rituele op die verhoog hou wat soms aanleiding gee tot die dood van sommige toeskouers. Die VSA se Superbowl halftyd vertoning is dikwels vol sataniese rituele. Ek weet nie of hierdie gebeure iets te doen het met die oopmaak van hemelse vensters om meer gruwelike wesens in te roep nie. Wat ek wel weet is dat dit tyd is dat Christene besef hierdie dinge is ‘n werklikheid. Tv-programme, films en musiek is ‘n maklike manier om baie mense te bereik. Wees versigtig wat jy kyk en waarna jy luister. As God die Hemel wil oopmaak, dan wil die vyand Hom na-maak en die mensdom daardeur te nakom. God is lief vir jou en wil net die beste vir jou hê.