OORKOM DIE DONKERTE
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 536 words
“Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.
Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.”
EFÉSIËRS 5:8, 13 AFR53
God het voor Hy die mens geskape het reeds lig en duisternis geskei. Adam en Eva het die duisternis toegelaat in God se koninkryk. God se heerlikheid het verdwyn en hulle was bewus van hul naaktheid. Die Bybel waarsku ons om nie naak gevind te word nie deur in die donkerte te wandel nie. God se heerlikheid het gekom en gegaan deur die eeue. Van die begin moes die mens God se koninkryk bou op die aarde. God se koninkryk en God se heerlikheid gaan hand aan hand.
Jesus het die lig en heerlikheid gebring. Ons sien die duisternis in die wêreld om ons. Daar is ‘n hewige stryd tussen lig en donkerte wat sal aanhou totdat Jesus terugkeer. Ons moet elke dag kies om in die lig te wandel en God se koninkryk te bou. Eendag sal God weer die lig en duisternis skei. Alles wat in die donkerte gebeur sal openbaar word.
Wanneer jy die lig aanskakel in ‘n vertrek verdwyn die donkerte. Christene moet dieselfde doen in die gees. Maak seker dat jy altyd in die lig wandel sodat die donkerte verdwyn, God se koninkryk uitbrei en God verheerlik word.
“IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.
En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”
GÉNESIS 1:1-5 AFR53
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.
Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”
JESAJA 60:1-2 AFR53
“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.”
JOHANNES 1:4-5, 9, 14 AFR53
“EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
JOHANNES 8:12 AFR53
“Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
MATTHÉÜS 5:16 AFR53