OORWINNAARS
- 8 minutes read - 1554 wordsOpenbaring 2-3.
Johannes was in die gevangenis op die eiland Patmos. Jesus het in ‘n visioen aan Johannes verskyn en vir hom boodskappe gebring vir die 7 kerke. In die 7 briewe aan die 7 gemeentes in Asië kry ons leidrade hoe om te oorwin.
1. Éfese
• Efése beteken “wenslik” of “liefling” TPT).
• Hulle het dieselfde verkeerde goed gehaat as wat God haat. ***
• Hulle het deursettingsvermoë gehad en nie moeg geword om goed te doen nie.
• Hulle het hul eerste liefde en intimiteit met die Vader verloor.
• Prys: Om te eet van die boom van die lewe in die Paradys.
Ons moet God se Woord ken. Dan sal ons beter kan onderskei tussen reg en verkeerd. Ons leef in ‘n tyd waar verkeerde goed reg genoem word en regte goed verkeerd (Jesaja 5:20). Ons moet elke dag tyd neem om ‘n intieme verhouding met God te bou. Jy is God se liefling en God wil jou eerste liefde wees.
*** In die briewe aan Efése en Pérgamus word verwys na die Nikolaïete. Volgens die TPT (The Passion Translation) beteken die woord “Nikolaïete” (Grieks) om te regeer oor mense. In plaas daarvan dat elke Christen regeer soos ‘n koning en ‘n priester, wou hulle hê leiers moes regeer oor die mense. Die leier neem dan die plek van jou persoonlike verhouding met Jesus oor. In Aramees kan die Nikolaïete ook verwys na ‘n groep wat spesifieke rituele slaafs nagevolg het in plaas daarvan om deur die Heilige Gees gelei te word.
2. Smirna
• Smirna beteken “aangename reuk” soos mirre (TPT).
• Hul kry swaar en ervaar ‘n tekort aan aardse goed, maar is ryk aan geestelike goed.
• Hulle moes getrou bly al sou hul in die tronk gegooi of vervolg word.
• Waarskuwing om versigtig te wees vir dooie wettiese godsdiens.
• Prys: Hulle sal ‘n kroon ontvang en die tweede dood sal hul nie skade aandoen nie.
Wanneer ons God loof en prys ten spyte van ons omstandighede produseer ons ‘n aangename reuk. Ons lees so graag Johannes 3 vers 16 waar Jesus Sy lewe aflê vir ons, maar vergeet van 1 Johannes 3 vers 16, waar jy jou lewe moet aflê. Elke Christen moet sy eie kruis optel en Jesus volg. Christene word vandag steeds vervolg vir hulle geloof in Jesus. Bly weg van leë rituele (2Tim 3:5).
3. Pérgamus
• Pérgamus beteken “getroud” of “hoogte” (TPT).
• Die mense moes die Romeinse keiser navolg (asof hy ‘n god was) en daar was ‘n altaar op ‘n hoogte vir die Griekse god, Zeus (troon van satan).
• Hulle werke was goed en hul het getrou aan God gebly.
• Maar daar was mense wat afgodsoffers geëet het en seksueel onrein was.
• Jesus se tweesnyende swaard kan korrigeer en seën.
• Prys: Hulle kan eet van die “verborge manna” en sal ‘n “wit keursteen” ontvang, met hul naam daarop.
As Christene volg ons Jesus en nie leiers nie. Seksuele sonde is netso algemeen in die kerk as buite die kerk. Jou liggaam is ‘n tempel en sonder heiligheid sal jy nie oorwin nie. Moenie met skuldgevoelens rondloop nie. Handig jou verlede oor aan Jesus, Hy vergewe jou dadelik.
‘ n Bruilof op aarde is ‘n skaduwee van wat gaan kom. Die bruid verteenwoordig alle Christene (mans en vroue). Sy dra wit, want Jesus se bloed het haar skoongewas. Die bruid kry tradisioneel ‘n diamant verloofring (wit keursteen) en neem haar man se van (nuwe naam op die keursteen).
4. Thiatíre
• Thiatíre beteken “offer”, “ewige- / permanente offer”of “reuk van swaarkry” (TPT).
• Jesus het hulle werke, diens, liefde, geloof en lydsaamheid (geduld, deursettingsvermoë) raakgesien.
• Sommige van hulle het Isébel toegelaat om hulle te beïnvloed. Isébel was die wrede vrou van koning Agab, wat almal wou beheer en die profete doodgemaak het. Sy was vol sonde en het afgode aanbid.
• Thiatíre het baie handelsorganisasies gehad wat hul lede laat deelneem het aan afgodsaanbidding en immorele seksuele dade (TPT).
• Hulle moes hulle bekeer of hulle sou die nagevolge van hulle keuses dra.
• Daar word ook genoem dat daar ‘n siekte kom.
• Prys: die Môrester (Jesus - Openbaring 22:16).
Thiatíre verteenwoordig vir my die wêreld soos dit vandag lyk. In elke generasie is daar dinge wat die mense laat dink hulle is nou in die eindtyd. Ons is geen uitsondering nie. Dinge gebeur oor en oor, “daar is niks nuuts onder die son nie”. Ons sien baie Christene wat God se wil doen. Ongelukkig is daar ook ‘n groot groep mense (mans en vroue) wat druk op almal wil uitoefen om sonde te doen (Isébel gees) Ek glo baie regerings, finansiële instellings en groot maatskappye is betrokke in satanisme en immorele seksuele dade. Dit is tyd om vergifnis te vra of hulle sal die gevolge van hul keuses moet dra. Christene kan bid dat die waarheid sal uitkom en bid vir hierdie mense se bekering.
5. Sardis
• Sardis beteken “ontsnap ”. Dit verwys ook na rooies (juwele). Deur Jesus se bloed ontsnap ons uit die gevangenis waarin die wet of dooie godsdiens ons plaas (TPT).
• Jesus het hul werke raakgesien en daar was tekortkominge.
• Hulle het gedink hul lewe, maar was regtig dood.
• Die mense moes wakker wees, want niemand weet wanneer Jesus terugkeer nie.
• Daar is mense wat hulself skoon gehou het van sonde en God regtig geken het.
• Prys: Hulle sal wit klere ontvang en Jesus sal hulle name aankondig voor God en die engele.
Een van die grootste gevare is dat mense mislei word om te glo dat hulle gered is. Satan glo ook in Jesus en daarom is dit nie genoeg om net te glo nie. Nadat jy geglo het moet jy God leer ken (Johannes 17:3). Satan hou vandag steeds mense gevangene in dooie godsdiens. Jy het krag en outoriteit in Jesus om die wêreld te verander. Jy is nie ‘n pion in satan se hand nie. Jy kan elke dag nader aan Jesus kom.
6. Filadelfía
• Filadelfía beteken “broederliefde”.
• Jesus het voor hulle ‘n deur oopgemaak wat niemand kon toemaak nie (Jesaja 22:22, Matthéüs 16:19).
• Jesus het hulle werke raakgesien. Selfs al het hulle min krag gehad het hulle God se wil gedoen.
• Jesus het gesê dat Hy die mense wat voorgee (en nie opreg is nie) sou hanteer.
• Jesus sal ook die wat getrou aan Hom gebly het, bewaar wanneer die einde kom.
• Waarskuwing: Hulle moes getrou bly sodat hulle nie hul oorwinnaars kroon verloor nie.
• Prys: Hulle sou ‘n pilaar in die tempel wees. God sou Sy naam, die Nuwe Jerusalem en Jesus se naam op hul skrywe.
Jesus het ‘n deur oopgemaak na intimiteit en verhouding bou met God.
Jesus is die enigste deur wat toegang gee tot God. Hou vas aan God en niks anders nie. Dan sal jy standvastig (‘n pilaar) wees in die storms van die lewe en ook liefde vir jou naaste hê.
7. Laodicéa
• Laodicéa beteken “menseregte” of “eiegeregtigheid” (TPT).
• Hulle was louwarm.
• Hulle was so verblind dat hulle glad nie die waarheid kon raaksien nie.
• Hulle moes na God draai sodat hulle die waarheid kon sien en hul van hulle sonde bekeer.
• Prys: Die wat oorwin sal saam met Jesus op die troon sit.
Hierdie mense was nie passief nie, maar ook nie aan die brand vir Jesus nie. Hulle was in ‘n gemaksone en so verblind dat hulle gedink het hulle is in ‘n goeie posisie. Ek dink baie mense was in hierdie posisie in 2020. Skielik toe satan ons vryheid wou begin wegneem het ons begin wakkerskrik en die waarheid begin raaksien. Die wêreld wil menseregte belangriker maak as God. As Christene is God se wil ons eerste prioriteit.
Die boodskap aan al 7 kerke was om te oorwin moet jy aanhou. Dit neem dus deursettingsvermoë en dissipline om jou aandag op God te hou. Moenie dat dinge van die wêreld jou aandag aflei nie. Jou persoonlike verhouding met Jesus sal jou laat oorwin. Iemand anders (jou leier, eggenoot, ouers, kerk) kan nie die plek van Jesus inneem nie. Jy is op hierdie aarde om ‘n persoonlike verhouding met Jesus te hê en by Hom te hoor wat jou missie is. Profete en ander mense kan jou slegs help en rigting gee. Ek was altyd onder die indruk dat kommunistiese lande geen kerke het nie, maar dit is glad nie die geval nie. Hierdie lande het kerke, maar dit is staatsbeheerde kerke, waar Jesus nie plek het nie. Jesus staan steeds by die deur en klop. Hou jouself skoon van die wêreld se slegte invloed. Daar wag ‘n wonderlike ewige lewe na hierdie kort, soms moeilike lewe.
Jy is God se liefling (Efése). Wanneer jy Hom eerste plaas in moeilike tye produseer jy ‘n aangename geur vir Hom (Smirna). God bring ons na ‘n hoër plek waar ons bo die geraas van die wêreld kan leef (Pérgamus). Ons leer om die moeilikheid van die wêreld te oorkom (Thiatire). Ons leer om te ontsnap uit die gevangenis van rituele, die verlede en om mense gelukkig te hou (Sardis). Ons het naasteliefde (Filadelfía) en plaas God se wil eerste (Laodicéa). [Kyk na die voetnota by Openbaring 3:21 TPT]