PAASFEES (Pasga/Pesag)
- 2 minutes read - 355 wordsDie eerste Pasga het plaasgevind met die tiende plaag in Egipte - Exodus 11-12. Die Israeliete moes die bloed van ‘n perfekte lam (sonder gebrek) op hulle deurposte smeer. Die bloed het verhoed dat die eersgeborenes sterf. Die doodsengel “passed over - Passover” die huise met die bloed. Die Israeliete moes die vleis van die lam gaarmaak en met bitter kruie en ongesuurde brood eet. Hulle moes haastig regmaak om te vertrek uit Egipte. Elf dae later kon hulle die Beloofde Land verkry, maar hulle sonde het dit verhoed - Deuteronómium 1:2.
Veertig jaar later wanneer Josua en die Israeliete uiteindelik deur die Jordaanrivier trek hou hulle pasga. Die manna wat God voorsien het hou op en hulle eet koring vanaf die land. ‘n Engel verskyn hier aan Josua en hierna is hulle reg om Jérigo in te neem - Josua 5-6.
Reg deur die Ou Testament word Pasga gevier. Baie jare later hou Jesus Sy laaste Pasga met die 12 dissipels - Matthéüs 26:17-30, Lukas 22:7-23.
Jesus stel dan ook die Nagmaal in en sê ons moet dikwels brood en wyn gebruik as herinnering van Sy dood.
Jesus word dan gedurende daardie Pasga fees die finale, perfekte lam wat gekruisig word vir ons sonde. Die Pasga was ‘n skaduwee van wat later sou kom en is vervul met Jesus se kruisiging. Nooit weer hoef enige slagoffers gebring te word nie. Jesus, God se eersgeborene, het gesterf sodat ons die ewige lewe kon verkry.
“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
II KORINTHIËRS 5:21 AFR53
Ek en jy het direkte toegang tot die Vader verkry toe Jesus sterf en die voorhangsel in 2 dele geskeur het. Jesus het Sy lewe gegee sodat jy ‘n intieme verhouding met die Vader kan hê. Jesus het gesterf sodat jy vry kan wees om die beste lewe te lei waardeur God verheerlik kan word. In die Bybel gaan Pasga dikwels gepaard met ‘n groot gebeurtenis of verandering vir God se kinders. Is daar dalk ‘n verandering wat jy moet maak gedurende hierdie Pasga?