I’m passionate about following God and helping people reach their destiny.
VOER JOU GEES
Meeste van ons vergeet nie om ons vlees te voer nie. Baie Christene vergeet egter dat hul gees netso gereeld soos hul vlees, gevoer moet word. As jy lees en luister na God se Woord, of mense se getuienis, voer jy jou gees. As jy dink aan God, bid of Hom loof en prys voer jy jou gees. Wanneer jy in stilte by God sit, voer jy ook jou gees.
Visioene (23/11/2021)
God het vanmiddag vir my ‘n hele reeks visioene gewys. Die volgende is ‘n opsomming van wat Hy gesê het: Jesus moet altyd ons fondasie bly. God is besig om ‘n nuwe ding te doen en dis tyd dat ons ophou vasklou aan dinge uit die verlede.
“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
JESAJA 43:18-19 AFR53
HEBREËRS 12
Die Bybel sê ons het “‘n groot wolk van getuienis rondom ons”. Sommige mense dink dat hierdie ‘n groep mense is wat reeds in die Hemel is. Ander dink dit verwys spesifiek na die helde in Hebreërs 11. Die punt is daar ‘n mense wat voor ons hul wedloop suksesvol voltooi het en dit behoort ons aan te moedig om dieselfde te doen.
Ons moet alles wat ons pla asook sonde aflê sodat ons hierdie lewensreis suksesvol kan voltooi. Die TPT (The Passion Translation) Bybel veduidelik alles baie mooi. Lees dit gerus en kyk na al die addisionele inligting wat hulle gee. Ons moet van elke pylpunt wat binne-in ons is, ontslae raak. Wanneer mense jou seermaak of te nakom in woord of daad en jy nie dadelik vergewe nie, bly die punt van die pyl in jou agter. Die wond sukkel om te genees totdat jy die mense vergewe het. Baie mense ontwikkel ‘n klip harde hart van al die seerkry van hierdie lewe. Om meer van God te ontvang moet ons harte sag en ontvanklik bly. Wanneer jy nie van die pylpunt ontslae raak nie sal dit moeilik wees om vorentoe te beweeg.
HEBREËRS 11
Die hoofstuk begin met ‘n definisie vir geloof.
“DIE geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”
HEBREËRS 11:1 AFR53
Ons hoop en vertroue moet op God wees sodat ons die dinge kan ontvang wat ons nie kan sien nie. Wanneer iemand siek is en sy vertroue op God plaas kan hy genesing ontvang. Jesus het ‘n menigte mense genees terwyl Hy op aarde was. Nou is dit ons verantwoordelikheid om vir die siekes te bid en genesing te verwag. My geloof word versterk wanneer ek ander se sukses verhale hoor.
ONSE VADER
“Só moet julle dan bid:
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.”
MATTHÉÜS 6:9-13 AFR53
Nommer 404
Die laaste week sien ek die nommer 404 gedurig.
404
* “404 Error - page not found” verskyn soms op jou skerm wanneer jy iets opsoek.
VIER 4 - SKEPPING
* 4 windrigtings - N,S,W,O
* 4 lewende wesens in die troonkamer - Open 4:6-9.
* 4 engele in Openbaring 7.
* Jakob het 4 vroue gehad, wat die hele nasie Israel sou vorm.
* Ons het 4 seisoene in elke jaar.
* Dag 4 het God die son en maan gemaak - Gén 1:15-19.
* Vierde plaag: steekvlieë - Ex 8.
* Vierde gebod: Heilig die Sabbatdag - Ex 20:8-10.
* Balans - 4 pote op ‘n tafel of stoel.
DIE KONINKRYK VAN GOD
“laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
MATTHÉÜS 6:10, 13 AFR53
Ons almal ken die “Onse Vader”, wat Jesus aan die dissipels gegee het toe hulle wou weet hoe hulle moes bid. Ons vra dat God se koninkryk moet kom en dan sê ons hierdie koninkryk behoort vir altyd aan God (Daniël 4:3; Psalms 22:29, 103:19). As God wil hê dat ons moet bid dat Sy koninkryk moet kom beteken dit dat Sy koninkryk nie oral op die aarde is nie. Dit is dus Christene se verantwoordelikheid om seker te maak dat God se koninkryk kom.
‘n Droom oor vuur
Ek het ‘n droom gehad waar ‘n vriendin se kind by my kind kuier. Ek het bly hoop sy kom haal haar kind voor 12 uur, want ek wou winkel toegaan om sjokolade te koop.
Daarna sien ek 4 voorwerpe op my kombuistafel staan. Al 4 voorwerpe is aan die brand. Die voorwerp wat uitstaan is ‘n spuitkannetjie wat brand. Ek gryp handdoekpapier om die vlamme te stop. Dan sien ek dit brand binne die doppie van die spuitkannetjie ook. Ek haal die doppie af om die vuur te stop voor die blikkie ontplof.
TEKENS VAN DIE TYE
Lukas 21, Matthéüs 24
Lukas is die derde boek in die Nuwe Testament en 3 is die nommer van opstanding en dui daarop dat iets volledig/voltooid is. Jesus het op die derde dag opgestaan en God en die mens bestaan elk uit 3 dele. Die nommer 21 verwys na volwassenheid. Dit is dus heel gepas dat hierdie hoofstuk praat oor die eindtyd.
Die hoofstuk begin waar Jesus sien hoe mense hul offerhandes na die tempel bring. Ryk mense het groot bydraes gemaak, terwyl ‘n arm weduwee slegs 2 geldstukkies gegee het. Jesus het gesê die weduwee het alles wat sy gehad het gegee en daarom was haar bydrae groter as die van die baie ryker mense. Dit geld nie net vir finansiële bydraes nie, ons moet in alle areas van lewens alles vir Jesus gee. Ek weet dit verwys na geld, maar ek voel dat Jesus wou hê ons moet raaksien hoe ‘n lewe lyk wat dood is vir onsself en voluit leef vir Jesus. Hierdie arm weduwee se storie is verewig aangeteken in die Bybel, die gewildste boek op aarde.