I’m passionate about following God and helping people reach their destiny.
LEWENDE WATER
God het soms vreemde maniere om met my te praat. Die laaste paar dae is ek gedurig dors. Ek word selfs in die middel van die nag dors wakker. Iemand het iets genoem oor water en ek het net verse oor water begin raaksien en skielik het ek besef God wil met my praat oor water. Verlede nag het ek ’n droom gehad waar ek baie lus was vir ’n koue coke, maar al wat die mense my kon aanbied was louwarm water. Gas koeldrank simboliseer die Heilige Gees as ’n fontein van lewende water. God hou nie van louwarm nie (Openbaring 3:15-16). God is ons “fontein van lewende water”. Hy wil nie hê ons moet dinge sonder Hom doen nie. Ons moet op God leun en vertrou in alles wat ons doen. Hy is ons enigste bron van “lewende water.”
En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was
Lukas 8: 26-56
Jesus en Sy dissipels het van Galiléa na Gádara gegaan. By Gádara het ‘n geestelike versteurde man Jesus tegemoet gekom. Jesus het baie demone uit hom gedryf, maar die mense van Gádara was nie beïndruk met sy genesing nie en het Jesus weggejaag. Een man het Jesus ontvang in Gádara en een man is genees in Gádara. Elke mens is belangrik in God se oë (Lukas 15:1-10) en Hy wil almal red (2 Petrus 3:9). Jy is belangrik vir God. Daarna het Jesus terug geseil na Galiléa waar baie mense (“‘n menigte of skare”) vir Hom gewag het. Jesus was netso gemaklik met die een persoon as wat Hy met die groot groep mense was. Ek glo dit was moontlik omdat Jesus Hom dikwels afgesonder het by God.
DIE WEDUWEE VAN NAIN
Lukas 7:11-17
Jesus en ’n groep van Sy volgelinge was in die omgewing van Nain toe hul ’n groep mense raakloop wat oppad was om ’n jongseun te begrawe. Die seun se ma was ’n weduwee en dit was haar enigste seun wat gesterf het. Toe Jesus haar sien het Hy innig jammer gevoel vir haar en vir die seun beveel om op te staan. Die mense was verslae en het God verheerlik toe hul sien dat Jesus die seun uit die dood opgewek het. Die nuus het deur die hele area versprei.
DIE WAARHEID
Jesus is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6). Die Waarheid, Jesus, sê jy is tot alles in staat deur Hom (Filppense 4:13). Wat jou ook al bangmaak of laat stilstaan, Jesus kan jou help om dit te oorwin. Al wat jy nodig het is Jesus.
“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,”
EFÉSIËRS 6:14 AFR53
Satan kom om jou hoop en vertroue in Jesus te steel (Johannes 10:10), maar Jesus het gekom sodat jy lewe in oormaat kan ervaar. Moenie die leuens van satan glo dat jy nie kan oorwin nie. Hou vas aan die waarheid. Niks is te moeilik vir God nie (Génesis 18:14).
GOD IS ♥️

God die Vader, Seun en Heilige Gees het jou onmeetbaar baie lief. Hulle liefde vir jou het gemaak dat Jesus, wat sonder sonde was, die wêreld se sonde op Hom geneem het. Geen wêreldse leier sal vir jou sterf nie.
Mense is baie naïef as hulle dink wêreldse, sataniese, selfsugtige, geldgierige regerings, besighede, geleerdes, wetenskaplike navorsings maatskappye en leiers wil die beste doen, vir die persoon op die straat. Die waarheid is hulle gee net om vir hulleself en wil jou beheer. Mense moet ophou om hul vertroue in die wêreld en wêreld se sisteme te plaas. Ons familie, vriende, kerk en werk stel ons ook soms teleur. God is die enigste Een wat jou kan beskerm en velig kan hou. Lees gerus Psalms 91 en 121. Die sentrale tema van die Bybel is dat God liefde is en dat Hy ons ondersteun en dra. Alle wêreld se sisteme gaan uiteindelik tot ’n val kom. In wie gaan jy jou vertroue plaas?
GOD DOEN ‘N NUWE DING
“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
JESAJA 43:18-19 AFR53
God doen dikwels dinge op ’n hele nuwe manier. Slegs profetiese mense wat in pas met God bly, sien dit raak en maak die nuwe manier van doen deel van hul lewens. Toe Johannes die doper oor vergifnis van sonde en die doop, begin praat, was dit iets splinternuut. Mense kon kies of hul na hierdie vreemde man uit die woestyn, luister of nie. Die geboorte van ’n Koning in ’n stal, ’n maagd wat deur die Heilige Gees swanger word, ’n donkie wat praat, ’n pad deur die Rooi See en daar is soveel meer kere wat God dinge op ’n nuwe manier gedoen het. Hy wil ook nou ’n nuwe ding doen.
GELDOORDRAG
Ek hoor al vir jare lank mense praat van ’n geldoordrag wat gaan plaasvind. Hulle beweer dat God geld van ongeredde mense sal wegneem en aan God se kinders sal gee. Wanneer ek iets hoor gaan soek ek in die Woord wat God daaroor te sê het. Vir baie lank het ek geglo wat mense vir my sê. Op ’n dag ontdek ek toe mense is dikwels verkeerd en ek moet self in God se Woord gaan soek wat die waarheid is. Ek wil jou aanmoedig om dieselfde te doen. Dit beste van alles is dat jy verhouding bou met God, terwyl jy antwoorde op jou vrae kry.
“DIE WONDERLIKE VISVANGS”
“Toe klim Hy (Jesus) in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ’n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. En toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!”
LUKAS 5:3-8 AFR53
IS DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS WAKKER?
Ek het onlangs ’n droom gehad waar ek siek is. Ek het buite gestaan in my nagklere en was laat om die hek oop te maak vir my kinders se verjaarsdag partytjie. Toe die hek oopgaan het daar reeds ’n ry motors staan en wag.
Ek het die liggaam van Christus voorgestel wat siek is, aan die slaap is en laat is. Ek wil byvoeg dat ons naïef is en glo dat wêreldse leiers weet wat die beste vir ons is. In die Nuwe Testament het die apostels geweet die Romeinse koning, die Fariseërs en die skrifgeleerdes, dra nie hul belange op die hart nie. Ons is nie gevul met die Heilige Gees en het nie onderskeidingsvermoë nie. Dit laat my dink aan die gelykenis van die 10 maagde in Matthéüs 25. Al 10 vroue was sonder sonde. Al 10 het reggemaak om Jesus te ontmoet, maar die 5 onverstandige maagde het nie ekstra olie gehad nie. Die verstandige maagde het ekstra olie gehad en saam met die Bruidegom gegaan. Toe die onverstandige maagde opdaag was die deur gesluit en die Bruidegom het gesê dat Hy hulle nie ken nie. Die ekstra olie het dus bepaal of die vroue die Messias geken het of nie. Die olie stel God se teenwoordigheid, die Heilige Gees, voor. Ons almal (mans en vroue) kan nie net weet van God nie, ons moet Hom werklik ken.