I’m passionate about following God and helping people reach their destiny.
Jesus se verheerliking
Markus 9:2-13, Matthéüs 17:1-13, Lukas 9:28-36
Die volgorde van die gebeure verskil ’n bietjie tussen die 3 evangelies.
Jesus het Johannes, Jakobus en Petrus saam met Hom op ’n berg geneem, waar daar niemand anders was nie. Volgens Lukas was Jesus besig om te bid toe Sy voorkoms skielik verander het. Jesus se gesig en klere het blink geword en Sy klere was spierwit, asof ’n helder lig op Hom geskyn het. Skielik was Moses en Elía ook daar en het met Jesus gepraat. Die 3 dissipels was verskrik en Petrus, wat nie geweet het wat om te sê nie, het voorgestel hulle bou 3 hutte. Soms wil ons hemelse gebeure met ons vlees intrepeteer en dan gebeur wat met Petrus gebeur het. Onthou die Heilige Gees is nog nie uitgestort op hierdie stadium nie.
Jesus kan
Wanneer ek wil bak neem ek eerstens die resep. Dan pak ek al die bestanddele wat ek benodig op die tafel uit. As ek sien ek benodig eiers en meel, gaan ek nie die melk, botter, suiker, bakpoeier en sout meng en dit in die oond sit nie. Ek weet ek moet al die bestanddele afmeet en volgens die instruksies meng en daarna by die regte temperatuur vir die regte tyd bak. Wanneer ons sien ons het al die bestanddele reg gemeng en die oond is by die perfekte temperatuur, verwag ons om ’n perfekte koek uit die oond te haal. M.a.w wat ons insit skep ’n verwagting van wat ons gaan uitkry. Dit geld in meeste areas van ons lewens. As ek werk kry ek ’n salaris. As ek harder werk en meer tyd insit kry ek beter resultate. Dit is die logika waarmee die wêreld en vlees werk. Ons kan nie hierdie logika gebruik wanneer dit by Jesus kom nie.
Sandkorrel
As jy jou lewe hier op aarde vergelyk met die ewigheid dink ek aan ’n sandkorrel op die strand. Die ewige lewe is soos die sandduine, daar is so baie sandkorrels dat jy dit nie kan tel nie. Dit voel of daar geen begin of einde aan sand is nie. ’n Enkele sandkorrel is so klein, jy sien dit skaars raak. Die sandkorrel verteenwoordig jou lewe op aarde. Daardie een, enkele sandkorrel bepaal egter wat met jou gaan gebeur, na hierdie lewe (Jesaja 66:24, Markus 9:44,46,48). Al voel jy so gering soos ’n sandkorrel is dit belangrik dat jy ’n kwaliteit lewe lei, met ’n intieme verhouding met Jesus en die Heilige Gees. Jou besluite gedurende hierdie kort lewe op aarde sal bepaal hoe jou ewigheid lyk.
Psalms 24
‘n Paar weke gelede het God vir my gesê: “Gaan na die berg.” Wanneer ek nie meer insig kry oor iets wat God sê nie gaan ek altyd na die Bybel. Ek het dadelik “Strong’s Concordance” gegryp en elke vers gekry wat na berge en hoogtes verwys. Dit gaan my nog ‘n rukkie neem om deur al die verse te lees. Sover was die boodskap duidelik dat God dikwels op berge met sy kinders ontmoet het. Moses was op die berg in God se teenwoordigheid en het daar die 10 gebooie ontvang. Dis hier waar hy met ‘n blink gesig, vol van God se heerlikheid was (Exodus 34). Satan wil altyd namaak wat God doen en daarom het mense afgode ook op hoë plekke aanbid. Hulle het dan ook offers aan bome of dooie standbeelde op die berge gebring.
Dood Vir Die Wêreld
Ek wonder altyd hoe kry die vervolgde kerk dit reg om Jesus te kies al word hul gemartel? Hoe kon Stéfanus sy oë op Jesus hou terwyl hy gestenig word (Handelinge 7)? Hoe kon Jesus wat sonder sonde was, gekruisig word? Ek glo die antwoord lê in die vlees wat dood is vir die wêreld. Wanneer jy leer om ten volle in die Gees te lewe, sien jy jouself sit in hemelse plekke saam met Jesus. Jy weet jy hoef jou nie te bekommer as iemand jou martel en jy sterf nie. Ek het gehoor van ‘n vrou wie se dogter vermoor is en sy kon die moordenaar, ‘n vriend van haar dogter, onmiddellik vergewe. Die vrou het die moordenaar in die tronk besoek en hom aangeneem as haar eie seun. Dit is slegs moontlik, wanneer jou wil gesterf het en God se Gees deur jou lewe.
VISIOEN
Gisteraand het ek ‘n visioen gehad waar ek om ‘n draai stap en skielik het ek op ‘n baie hoë rots gestaan. Ek het aan niks vasgehou nie en het net daar gestaan met die blou lug om my en dit het gelyk of ek op die hoogste deel van die berg was. Ek glo God sê baie van ons kom nou om daardie laaste draai voordat ons stewig op die Rots (Jesus) staan. Ons het niks anders nodig nie, net Jesus. Ons sal ‘n wonderlike hemelse uitkyk en insig (perspektief) hê oor wat om ons gebeur.
Die Ontroue Bruid
God gebruik woorde wat ons gebruik tussen ‘n man en vrou om die slegte gewoontes van Sy mense, Israel en Juda te beskryf: hoereer, ontrou, skeibrief en owerspel.
“Maar soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here.”
JEREMIA 3:20 AFR53
Dit was ‘n skaduwee van wat later sal kom wanneer ons die bruid van Christus word. In die Ou Testament het God ‘n verbond met die volk Israel gesluit. Hy sou hul God wees en vir hulle sorg en hulle moet gehoorsaam wees aan Hom (Deuteronomium 28). Dit het begin met Abraham en is dan oorgedra van geslag tot geslag. Ongelukkig wou Israel nie die verbond nakom nie en het Israel verdeel in 2 stamme, Israel en Juda, as gevolg van hul sondes. In die Nuwe Testament het die Bruidegom aarde toegekom om te betaal vir al ons sonde. Dit het toegang gegee dat alle mense nou God kon volg en nie net die stam Israel nie. Onthou Petrus se visioen van ‘n laken, waar hy vleis van onrein diere kon eet, en waar God vir hom gewys het dat mense van alle nasies nou na God kon kom. Daarom kan almal vandag kies om die bruid van Christus te wees. Ongelukkig sien ons gereeld ‘n afgewaterde verbond. Ons verwag God moet steeds Sy deel van die verbond nakom, maar wat van die bruid se deel?
Visioen
Ek het ‘n visioen gesien waar ‘n dogtertjie op ‘n balkon by ‘n woonstelblok staan en dan oorleun en na onder vir my ‘n geel en swart koevert gee. Dit het gelyk soos die koevert wat deelnemers in “The Amazing Race” ontvang, wanneer hulle na die volgende uitdaging aanbeweeg. Ek was bekommerd dat die dogtertjie gaan val.
Ek glo God wil vir ons leidrade vir die toekoms gee en ons moet na Bo reik om dit te ontvang. Dit is ook ‘n teken dat ‘n laaste opdrag afgehandel is en ‘n volgende nuwe seisoen met nuwe opdragte voorlê. Die feit dat ek oor die dogtertjie se veiligheid bekommerd was, was satan wat my wou mislei om te vrees i.p.v. om my oë op God te hou en doen wat reg voor my is. Met elke bevordering wat jy ontvang, of dit in jou werk, gesondheid, of ‘n beter verhouding met God is, sal satan probeer om jou van koers te gooi.
Johannes 17
Jesus is vir ‘n spesifieke doel aarde toe gestuur.
- Sodat God verheerlik kon word.
- Sodat Jesus verheerlik kon word soos wat Hy verheerlik was, voordat Hy aarde toe gekom het.
- Sodat ons die heerlikheid van God kan ontvang.
- Sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Die ewige lewe is om vir God en Jesus te ken.
- Jesus het gekom om die Vader aan mense bekend te stel en sodat ons kan glo Vader God het Hom gestuur.
- Sodat ons een met God en Jesus kan word soos God en Jesus een is.
- Jesus het God se Woord gebring. Hy is die Woord.
- Sodat Jesus ons kan stuur, soos God Jesus gestuur het.
- Sodat ons vol liefde kan wees, soos Jesus en die Vader.
“En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”
JOHANNES 17:22 AFR53