PASGA
- 5 minutes read - 939 wordsHierdie jaar begin Pasga en Paasfees saam. Pasga word gevier vanaf Vrydagaand, 15 April, tot Saterdagaand, 23 April. Dit begin wanneer die son ondergaan. Die eerste Pasga is in Egipte gehou die aand voor die eersgeborenes van die Egiptenare gesterf het.
Die Israeliete was die nakomelinge van Jakob en sy 12 seuns. Die eerste Pasga word gevind in Eksodus 12. Die Israeliete moes die bloed van ‘n perfekte lam op hul deure verf om hul lewens te behou. In Eksodus 12 vers 12 lees ons dat die Here in die nag verby sou kom en al die eersgeborene mense en diere wat nie die merk van die bloed gehad het nie sou sterf. Die vleis van die lam moes gebraai word. Hulle het nie tyd gehad vir die suurdeeg om te rys nie en daarom moes hul plat brode bak sonder gis. Gis is simbolies vir sonde (Matthéüs 16:6,11-12, 1 Korinthiërs 5:6-8, Galásiërs 5:9) Hulle moes dan bitter kruie saam met dit eet.
Daarna het die 12 stamme haastig uitgetrek uit Egipte met die wolk (in die dag) en die vuurkolom (in die nag) as teken van God se teenwoordigheid. Daar is meer interessante goed om raak te sien in Eksodus 12. Die maand Adar wanneer Pasga plaasvind moes die eerste maand van die jaar word. Dit was ‘n nuwe begin vir die Israeliete. Pasga bied vir almal ‘n nuwe begin. Dis ‘n tyd waar ons weer bewus word dat ons opstandingskrag het en ons situasie kan verander. Eksodus 12 vers 11 gebruik dieselfde woorde wat ons in die wapenuitrusting vind in Efésiërs 6. Die Israeliete kon dus met God se hulp reg wees vir hulle nuwe begin wat dikwels kom met teenkanting van die vyand. Wanneer jy ‘n nuwe begin maak sal jy weerstand van die vyand ervaar, maar met jou volle wapenuitrusting aan is dit nie ‘n probleem nie.
Vandag eet die Jode steeds ‘n tradisionele Pasga maaltyd in herinnering hulle aan hul uittog uit Egipte en slawerny. Die bitter kruie is ook ‘n herinnering aan die swaarkry. Die dissipels het ook Pasga saam met Jesus gehou. Die laaste Pasga het Jesus en die 12 dissipels in ‘n bo-vertrek gehou (Matthéüs 26: 17-30, Markus 14:12-26 en Lukas 22:7-23-29). Jesus het Petrus en Johannes gestuur om ‘n man met ‘n kruik te vind. Hulle moes dan die man volg tot by die huis waar hulle die Pasga maaltyd sou eet. In die aand het die 13 van hulle saam om die tafel gesit en die eerste Nagmaal het plaasgevind terwyl dit Jesus se laaste Pasga op Aarde was. Daardie Pasga het Jesus die laaste perfekte Pasga lam geword wat ooit sou sterf. Daardie Lam se bloed beskerm ons van die ewige dood in die vuurpoele van die hel.
Die nommer 12 herhaal keer op keer in die Pasga verhaal. Twaalf is simbolies van God se regering hier op Aarde. Daarom is daar 12 ure in ‘n dag en nag en ook 12 maande in ‘n jaar. Jesus was 12 toe sy ouers Hom in die tempel vind, Jaïrus se dogtertjie was 12 toe sy sterf en ‘n vrou het 12 jaar aan bloedvloeiing gely. Die 12 stamme in die Ou Testament sou sterf en in ewige slawerny bly sonder God se hulp. Die 12 dissipels in die Nuwe Testament sou vir altyd lammers moes slag sonder Jesus se bloed. Hulle sou nooit werklik vry wees sonder Jesus se bloed nie. Vandag stel elke Christen hier op Aarde die 12 voor. Jy moet regeer en God se Koninkryk Aarde toe bring. Ons benodig steeds nommer 13, die Heilige Gees, om ons te lei. Dertien simboliseer liefde en eenheid. Ses (die mens, ons is op die sesde dag geskape en God het gesê dit was baie goed) + sewe (God se sigbare teenwoordigheid) = 13 (liefde). Die wêreld sê 13 is ongelukkig. God sê 13 is perfekte liefde van die Vader, Jesus en die Heilige Gees. Dis nie toevallig dat 1 Korinthiërs 13 die hoofstuk oor liefde uit 13 verse bestaan nie. Sonder die 13 kry ons ‘n situasie waar die Egiptenare se eersgeborenes moes sterf, want hulle kon nie skuiling vind by God nie (kyk Eksodus 12:12).
“Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”
JOHANNES 15:13 AFR53
Volgende keer as jy die nommer 13 sien weet dat dit God, Jesus en die Heilige Gees se liefde vir jou voorstel. Of jy Paasfees of Pasga hou onthou dit gaan oor Jesus se liefde vir jou. (Ek het hierdie boodskap op 13 April ontvang en neergeskryf.)
Kry gerus vir jou ‘n stukkie brood en ‘n glasie wyn of sap en hou Nagmaal in herinnering van Jesus wat betaal het vir jou sonde, jou gesondheid en jou lewe. 🤍✝️🙏🏻
“Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”
I KORINTHIËRS 11:23-26 AFR53
Geseënde Paasfees! Eet julle paashasies en paaseiers wat jou herinner aan vrugbaarheid en jou nuwe begin, maar plaas Jesus altyd eerste.
Hy is die Een wat die verskil in jou lewe kan maak.