PASOP VIR DOOIE GODSDIENS
- 2 minutes read - 392 wordsDie Fariseërs kon nie raaksien dat Jesus die Seun van God was nie, omdat hulle nie die Vader geken het nie. Hulle het kopkennis en nie hartskennis gehad nie. Ons benodig ‘n openbaring van God se liefde. Die Fariseërs het die wet geken, maar nooit die Woord (Jesus) leer ken nie.
So baie mense weet van God, maar ken nie God nie. Om die ewige lewe te verkry moet ons God ken, maar ook Jesus aanvaar as ons Verlosser.
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
JOHANNES 17:3 AFR53
Jy mag dalk dink jy is ok en ek maak ‘n groter ding ding hiervan as wat dit werklik is. Ek het ‘n droom gehad waar daar pikkewyne dood, “bevrore”, of bewusteloos in die see rondgedryf het en toe skielik ontwaak het.
*** Pikkewyne is swart en wit en simboliseer die wet of dooie godsdiens. Pikkewyne eet vis en kan nie vlieg nie, al is hulle voëls.
Pikkewyne het dus nie ‘n hemelse perspektief nie. Visse simboliseer Jesus se volgelinge. M.a.w. pikkewyne kan veroorsaak dat visse hul lewens verloor.
Lees nou Johannes 8:12-59. Hier volg ons die gesprek tussen Jesus en die Fariseërs. Jesus draai nie doekies om nie. Hy sê reguit vir die Fariseërs dat die duiwel hulle vader is en daarom doen hulle die duiwel se wil. Die derde Groot Ontwaking (Great Awakening) is besig om te gebeur. Satan, die ou nabootser, is besig met sy groot “reset”. Dis redelik maklik om die euwel raak te sien. Ek glo God waarsku ons nou dat dooie godsdiens en leë rituele ook ‘n groot vyand van Sy beweging is. Jesus het gesê dit is van onder en van die duiwel. Maak seker jy aanvaar nie net Jesus nie, maar leer Hom ook ken.
“Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.
En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord.”
JOHANNES 8:19, 55 AFR53
*** The Divinity Code to Understanding your Dreams and Visions, Adam Thompson and Adrian Beale.