PASOP WAARAAN JY GEWOOND RAAK
- 3 minutes read - 631 wordsBaie mense het so gewoond geraak aan maskers dat hulle dit nou nie wil ophou dra nie. Gewone maskers kan nie virusse uithou nie. Wanneer jy ‘n masker afhaal vryf jy eerste oor jou neus met dieselfde hande wat die masker afgehaal het. As daar enige iets op jou masker geland het maak jy dus seker dat dit in jou neus beland. Na 400 jaar in Egipte kon die Israeliete nie meer vir hulleself dink nie. Ek glo dieselfde het met baie mense gebeur. Christene kan nie deur dokters, die media, kenners, landsleiers en die media gelei word nie. Ons moet deur God se Gees gelei word.
Gister is Roe versus Wade (1972 -die reg vir aborsies) uiteindelik ongeldig verklaar in Amerika. Na 50 jaar is die euwel uiteindelik gestop. In die middel van die duisternis het die lig gister deurgeskyn.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”
JESAJA 60:1-2 AFR53
Baie mense het gewoond geraak aan aborsies. Daar is mense wat dink dat hulle nou hulle regte verloor het. Wat van die baba se regte? Sommige wêreldse mense vergelyk gister se besluit met die Holocaust. Hoe deurmekaar kan mense se koppe wees? Aborsies is niks anders as om jou kinders te offer aan afgode nie. Kinders is ‘n geskenk en ‘n seëning van God. My vraag is as jy openlik ‘n baba kan doodmaak, wat doen jy wat ek nie kan sien nie? Ek vertrou nie mense wat aborsies goedpraat nie. As jy ‘n aborsie laat doen het weet dat Jesus jou heeltemal vergewe en jy hoef nie die res van jou lewe met skuldgevoelens te leef nie.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”
JESAJA 5:20-21 AFR53
“Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die Here van die leërskare.”
MALEÁGI 2:7 AFR53
Die een ding waarteen Jesus almal ‘n paar keer waarsku is misleiding (lees Matthéüs 24). Moenie jou deur enige een laat mislei nie. Selfs kerkleiers kan mislei word. Sommige mense het so gewoond geraak aan Jesus se kruisiging dat hulle selfs nie meer die wonder van Sy opstanding kan raaksien nie. Moenie gewoond raak aan siekte, armoede en swaarkry nie. Wees hoopvol, want Jesus leef en Hy het reeds vir alles betaal. God se kinders bring lig in die duisternis.
“Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.”
JOHANNES 11:9-10 AFR53
“EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
JOHANNES 8:12 AFR53
“EN dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
I JOHANNES 1:5-7 AFR53