Paulus se doring in die vlees
Janine Forsyth
- 6 minutes read - 1132 words“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”
II KORINTHIËRS 12:7-10 AFR53
Daar is baie verskillende opinies rakende die doring in Paulus se vlees. Ek glo Paulus se doring in die vlees was die wet. Moses het die wet by Sinaí ontvang. Die naam Sinaí beteken “doringagtig” - Strong’s H5514.
Paulus was ‘n Hebreeuse sprekende Jood wat streng volgens die wet opgelei is deur Gamáliël. Gamáliël was ‘n Fariseër wat bekend was as ‘n goeie leraar van die wet - Handelinge 5:34.
Jesus het ‘n doringkroon gedra toe Hy gekruisig is en die volle wet vervul het. Na Sy kruisdood ontvang ons genade sodat ons vergifnis kan ontvang omdat ons nie die wet kan onderhou nie.
“BROEDERS en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle! En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê: Ek is 'n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.”
HANDELINGE 22:1-5 AFR53
Paulus het die wet onderhou maar glad nie vir God geken nie. Hy het die wêreld se kennis gehad en kon ander beïndruk met sy opvoeding. Paulus was egter harteloos en het Christene vervolg en laat doodmaak totdat hy Jesus ontmoet het oppad na Damaskus. Paulus kon nie langer op sy kennis staatmaak nie; Hy moes nou leer om deur die Gees gelei te word. Paulus het vol liefde sy lewe gegee sodat ander gered kon word. Ek glo die engel van satan het hom gedurig aan sy verlede herinner en wou hom kry om uit die vlees te reageer. Paulus se doring in die vlees (sy verlede gelei deur die wet) het hom nederig gehou.
“Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien 'n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.”
ROMEINE 7:5-6, 19-26 AFR53
In Romeine 7 sukkel Paulus, maar in Romeine 8 het hy die volle openbaring. Hy verstaan dat hy dood is vir die sonde en leef deur die Gees.
“DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het — wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees — deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
ROMEINE 8:1-17 AFR53