Psalms 24
- 3 minutes read - 527 words‘n Paar weke gelede het God vir my gesê: “Gaan na die berg.” Wanneer ek nie meer insig kry oor iets wat God sê nie gaan ek altyd na die Bybel. Ek het dadelik “Strong’s Concordance” gegryp en elke vers gekry wat na berge en hoogtes verwys. Dit gaan my nog ‘n rukkie neem om deur al die verse te lees. Sover was die boodskap duidelik dat God dikwels op berge met sy kinders ontmoet het. Moses was op die berg in God se teenwoordigheid en het daar die 10 gebooie ontvang. Dis hier waar hy met ‘n blink gesig, vol van God se heerlikheid was (Exodus 34). Satan wil altyd namaak wat God doen en daarom het mense afgode ook op hoë plekke aanbid. Hulle het dan ook offers aan bome of dooie standbeelde op die berge gebring.
Vanoggend het ek gedink aan die skrif wat vra wie kan op die berg gaan? Of wie kan op die heilige plek staan? Wie kan in die teenwoordigheid van God gaan? Die berg was dus die plek waar mense God kon ontmoet. Die antwoord: Mense wat rein van hande is, die wat nie verkeerd doen nie Mense wat suiwer van hart is. Onthou God kyk na die hart en nie net jou aksies nie. God sien wat ons dink en wie ons werklik is. Hy sien verby wat ons voorgee om te wees. Mense wat hulself nie met ydele of nietige goed besig hou nie, maar wat besig is met God se dinge. Mense wat eerlik en opreg is en nie vals sweer nie.
En dan sien ons deur na die berg te gaan en God te ontmoet, word ons bevoordeel: Ons sal geseënd wees. Ons sal geregtigheid en verlossing ontvang.
Vers 6 sê dit was ‘n generasie wat na God soek. Dis iets wat nooit uit die mode gaan nie. Ek glo ons in ‘n generasie wat na God soek. Ek wil God se aangesig soek soos Moses en Dawid. Elke generasie het mense wat ernstig na God soek. Hy is ons Erekoning en die Here van ‘n menigte engele (leërskare).
“’n PSALM van Dawid. Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome. Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil. Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek — dit is Jakob. Sela. Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die Here, sterk en geweldig, die Here geweldig in die stryd. Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is dan tog die Erekoning? Die Here van die leërskare — Hy is die Erekoning! Sela.”
PSALMS 24:1-10 AFR53