PSALMS 27
- 4 minutes read - 735 wordsDawid verseker ons in hierdie Psalm dat ons nooit alleen of bang hoef te voel wanneer ons Jesus volg nie.
“'n PSALM van Dawid. Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?”
PSALMS 27:1 AFR53
Satan loop rond en soek maniere om ons lewens moeilik te maak. Ongelukkig gebruik hy mense om hierdie dinge te doen. “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen owerstes van die donkerte” - Efésiërs 6. Dawid sê dat die mense wat hom skade wil aandoen self struikel. Dawid moes gedurig oorlog voer om God se kinders te red. Vandag voer ons ‘n geestelike oorlog om God se kinders te red. Ons wil nie hê slegte goed moet met ander mense gebeur nie, maar ons kan bid vir chaos in die vyand se kamp sodat satan se slegte planne nie uitgevoer kan word nie. Ons kan ook bid dat hierdie mense tot bekering kom.
“As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet — my teëstanders en my vyande, ja, myne — struikel hulle self en val.”
PSALMS 27:2 AFR53
Al sien jy hoe slegte dinge gebeur en beplan word hoef jy nie bang te word nie, want jou vertroue is in Jesus.
“Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.”
PSALMS 27:3 AFR53
Jy is veilig by Jesus. Hy beskerm jou as jy kies om Hom te volg.
“Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op 'n rots.”
PSALMS 27:4-5 AFR53
Slegs Jesus kan jou beskerm teen die vyand se aanslag en jy kan Hom loof en prys daarvoor.
“En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.”
PSALMS 27:6 AFR53
Wanneer ons uitroep na Jesus is Hy altyd daar om ons te help. Matthéüs 7:7 sê dat as jy soek sal jy vind. As jy die Woord lees en dit gehoorsaam leer jy Jesus ken. Hy is dan nooit ver van jou nie. Soms moet ek myself herinner hoe Hy my in die verlede gehelp het en dit gee my weer hoop vir die toekoms. Mense is nie altyd betroubaar nie, maar Jesus is altyd daar.
“Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here! Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.”
PSALMS 27:7-10 AFR53
Die Heilige Gees gee vir ons wysheid en insig hoe om op te tree in elke situasie. Josua 1:9 sê dat Hy ons NOOIT sal verlaat nie. Selfs wanneer die vyand leuens oor jou versprei sal Jesus jou lei.
“Here, leer my u weg en lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande. Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.”
PSALMS 27:11-12 AFR53
Omdat jy weet dat God goed is en goeie planne vir jou het (Jeremia 29:11, Psalms 23:6, Romeine 28:8) kan jy hoopvol bly totdat jou situasie verander.
“o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie... Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”
PSALMS 27:13-14 AFR53
Die een opdrag wat al 7 kerke in Openbaring ontvang is om te oorwin. Om te oorwin moet jy uithou en hoopvol bly selfs al draai die hele wêreld teen jou. Dawid het geweet hoe om homself te versterk in die Here. Ons moet dieselfde doen.