RAAK STIL
- 3 minutes read - 512 wordsWanneer jy jou bekommer oor iets neem dit dikwels jou gedagtes oor. Dis soos ’n knaende muskiet wat jou wakker hou. Hoe meer jy daaraan dink en hoe meer jy daaroor bid, hoe meer pla dit jou. Toe my kinders eksamen moes skryf, sou ek ’n paar keer deur die dag vir hul bid. Op ’n dag het God met my daaroor gepraat en verduidelik dat ek dit een maal aan Hom kan gee en dat dit genoeg is. Dit het gewerk, maar dis anders as langdurige probleme. Ek praat van daai dinge wat jaar in en jaar uit pla.
Natuurlik is elke situasie anders, maar rus in God se teenwoordigheid is altyd beskikbaar. Ek begin met Skrif of musiek met lirieke wat my kalmeer. Ek lees of herhaal dele van Psalm 23, 91, 121, Jes 41:10, Ex 14:14 of Joh 14:27 ’n paar keer. Dis alles verse wat my kalmeer en die fokus op God se teenwoordigheid, vrede en voorsiening plaas. Ek haal dus doelbewus my aandag weg van dit wat pla en plaas dit op God, die Een wat my beskerm en liefhet. Of ek sal ’n Christen lied speel oor God se teenwoordigheid. Soos dit stilraak herhaal ek dele van Skrif en lirieke, soos ek dit onthou. Dit hoef nie in orde of uit een lied te kom of vir ander mense sin te maak nie. Dis tussen my en God en Hy wil my in Sy teenwoordigheid hê. Ek sal ook in tale praat en God se teenwoordigheid sal volg soos elektriese strome. Hoe meer ek dit doen, hoe makliker word dit.
Ek plaas dit wat pla by God se voete en ek wil net Sy teenwoordigheid geniet. Dit bring vrede en rus en soms sal ek visioene en antwoorde kry. Meestal rus ek in die wete dat Hy my sal help. Wanneer ek bekommerd is en ’n ja of nee antwoord wil hê, word ek net meer frustreerd. Ek vind rus in Sy teenwoordigheid en dis asof Hy ligweg die pyn van die wêreld wegneem terwyl ek by Hom rus.
“Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots. En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here. Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”
PSALMS 27:4-7, 9, 14 AFR53