Rosh Hashanah
- 3 minutes read - 498 wordsJoodse Nuwejaar/ Rosh Hashanah/ Fees van trompette/Yom Teruah - day of shouting or blasting
“Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle 'n rusdag wees, 'n gedenkdag deur basuingeklank, 'n heilige vierdag.”
LEVÍTIKUS 23:24 AFR53
Hierdie fees word op die eerste dag van die sewende maand gehou en word met ‘n basuinklank aangekondig. Dit mag vir jou vreemd klink dat die sewende maand die “Nuwejaar” is. Volgens die godsdienstige kalender is dit die sewende maand, maar volgens die siviële kalender is dit die eerste maand. Die Jode glo dit is die dag waarop alles begin het en Adam en Eva geskape is. Toe Israel uit Egipte trek het God die kalender verander en ‘n nuwe eerste maand aangekondig met die eerste Pasga. Maart/April/ Nisan word dus die eerste maand en September/Oktober/Tishrei die sewende maand - Exodus 12. Hulle werk op ‘n maan kalender en die fees strek oor 2 dae. Die fees begin dus met sononder Vrydagaand 15 September tot Sondagaand 17 September 2023.
Daar is baie simboliek in die eerste maand wat ook die sewende maand is. Wanneer ‘n Christen ouer word of dit aand word in jou lewe begin ‘n nuwe dag in die Hemel vir jou. Wanneer jy jou laaste of sewende dag bereik word dit jou eerste dag by God.
Dit wil voorkom dat ‘n basuin na ‘n ramshoring/shofar verwys en nie na die 2 silwer trompette nie. Al die ander maande word aangekondig deur op die 2 silwer trompette te blaas, maar die sewende maand word daar op ‘n ramshoring geblaas. ‘n Ramshoring was ook gebruik tydens oorlogvoering. In Openbaring lees ons ook van 7 basuine wat geblaas word. Die sewende basuin word geblaas wanneer Jesus vir ewig Koning word - Openbaring 11:15-19. Jesus sal terugkeer op die wolke en ons sal saam met Hom gaan. Christene sal opgewek word uit die dode en saam met Hom regeer. Dit sal die begin van die sewende dag (jaar 6000 -7000) wees. Dit is so gepas, want die fees word gehou op die eerste dag van die sewende maand. Dit sal vir Christene ‘n wonderlike “Nuwe Jaar” en nuwe lewe gee. Rosh Hashanah sal dus vervul word met die wederkoms van Jesus.
“in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
I KORINTHIËRS 15:52 AFR53
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53
Die Jode eet tradisioneel appels met heuning op Rosh Hashanah.
Shana Tova, “Have a sweet New Year” (7854)!