SABBAT OF SONDAG?
- 3 minutes read - 587 wordsEk het oor die jare baie gewonder hoe die Sabbatdag verander is na Sondag as die dag van rus vir Christene. Ek glo dis reg vir Jode om Sabbat te vier van sononder Vrydagaand tot Saterdagaand. Ek glo ook dat dit reg is vir Christene om Sondag as rusdag te hou. In die begin het God lig geskep. Hy het skeiding gebring tussen lig en duisternis en dit was die eerste dag.
“En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”
GÉNESIS 1:2-5 AFR53
Dit was ‘n fisiese gebeurtenis, maar ook ‘n skaduwee van wat 4000 jaar later gebeur toe Jesus uit die graf opgewek is. Op die eerste dag het Jesus uit die donkerte van die graf en hel gekom en Hy het skeiding gebring tussen lig en duisternis. Jesus is die lig van die wêreld. Elke persoon wat gered word ervaar so ‘n eerste dag in hulle lewe. Ons vind ‘n nuwe begin (Beresheet - Génesis) in Jesus se opstanding.
“EN laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;”
MATTHÉÜS 28:1, 6 AFR53
Wanneer ons Sondag as rusdag hou, vier ons Jesus se opstanding en ons redding. Hy bring rus vir elke Christen.
“Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”
HEBREËRS 4:9-11 AFR53
Wanneer die Jode die Sabbat onderhou, herinner hulle ons aan die 1000 jaar rus wat almal wat gered is sal ervaar.
“En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”
OPENBARING 20:2-5 AFR53
Of jy op die Sabbatdag of die Sondag rus is tussen jou en God. Ek glo nie ons moet daaroor stry nie. Ons moet rus vind in Jesus en lig aan hierdie donker wêreld bring.